Die Vrystaatse departement van water en sanitasie het nadat AfriForum hom met regstappe gedreig het, ʼn ommeswaai gemaak rakende sy weiering om die oordrag van ʼn watergebruikslisensie van ’n swart boer na ’n wit boer toe te staan.
Die burgerregteorganisasie het die departement versoek om sy “irrasionele en onregverdige besluit om die tydelike oordrag van ’n watergebruikslisensie op grond van ras af te keur”, te hersien.
AfriForum het vroeër vandeesmaand sy regspan opdrag gegee om ’n hersieningsaansoek te bring ná die departement geweier het om die oordrag van die watergebruikslisensie toe te staan, aangesien die ontvanger van die waterregte nie aan sekere rasgebaseerde kriteria voldoen nie.
“Die kwessie behels ’n suksesvolle, opkomende swart boer wat ’n samewerkingsooreenkoms met sy mentor, ’n wit, kommersiële boer, gesluit het,” aldus Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir omgewingsake. “Die opkomende boer was van voorneme om sy boerdery uit te brei, maar omdat hy nie voldoende sekuriteit kon voorsien nie, kon hy nie ’n kommersiële banklening bekom om nog grond te koop nie.
“Gevolglik het die mentor ooreengekom om grond wat geskik is vir besproeiingsboerdery, maar waarvoor hy geen waterregte het nie, aan die opkomende boer te verhuur. In ruil vir die mentorskap, finansiële bystand om die plaas met besproeiingsinfrastruktuur toe te rus en toetrede tot markte te verseker, sou die opkomende boer ’n gedeelte van sy toekomstige opbrengste met sy mentor deel. Die opkomende boer beskik oor waterregte vir besproeiing op ’n nabygeleë eiendom en hy sou hierdie waterregte tydelik aan sy mentor oordra – dít sou deurslaggewend wees tot die sukses van hierdie transaksie.”
Die departement se eng toepassing van rasgebaseerde transformasieteikens was nie net irrasioneel en onwettig nie, maar ook ’n skending van ’n opkomende swart boer sowel as ’n kommersiële wit boer met wie hy ’n samewerkingsooreenkoms gesluit het, juis ter bevordering van transformasie in die landbousektor, se grondwetlike regte. “Ons kon nie toelaat dat so ’n onregverdige besluit onbestrede bly nie – veral nie ten opsigte van ’n fundamentele reg soos toegang tot water nie,” aldus De Vaal.
AfriForum het ’n aanmaning aan die departement gerig waarin die ongrondwetlikheid van hul besluit uitgewys is en geëis dat die besluit heroorweeg word ten einde verdere regstappe te vermy. Volgens De Vaal het die departement toegegee en die tydelike oordrag van die watergebruikslisensie goedgekeur.
“Hierdie oorwinning is ’n bewys van die krag van burgerlike samewerking en die belangrikheid van organisasies soos AfriForum om onregverdige praktyke die hoof te bied. Ons is verheug oor die departement se toegewing, maar die stryd is nog lank nie verby nie. Ons sal aanhou veg teen enige vorm van diskriminasie in die toekenning van waterregte en sal voortgaan om die regte van alle watergebruikers te beskerm,” het De Vaal gesê.
