Uit die pen van: Volkskrag Nuus Redakteur
Daar is baie kontroversie rondom die doop. Gevegte oor grootdoop of klein doop. Sommige kerke en sektes veroordeel klein doop. Dan is daar kerke wat weerdoping veroordeel.
Ons as volk word in 2 geskeur as gevolg van sieninge oor die doop!
Kom ons gaan maak ons Bybels oop en sien wat die Woord van God rondom dit sê
Om te begin wil ek na Jesus se doop kyk: Kom ons lees daarvoor Mattheus 3:11:
Mat. 3:11 “Ek doop julle wel met water tot bekering; maar Hy wat ná my kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie waardig is om aan te dra nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur.”
Hier is dit duidelik dat Jesus eerstens met die Heilige gees doop.
Nou ontstaan die vraag: Wie was eerste met die heilige gees gedoop? Kom ons gaan lees Genesis 2:7
Gén. 2:7 “En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.”
Wat is dit anders as om met die Heilige Gees gedoop te word?
Wat het gebeur met die uitstorting van die Heilige Gees?
Handelinge 2:3-4
Hand. 2:3 “Toe is deur hulle tonge gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit.
Hand 2:4 En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek.”
Dit wat Johannes in Mattheus 3:11 gesê het kom hier in vervulling. Die mense is met die Heilige gees in die vorm van vuurtonge gedoop.
Nou die vraag: Groot of klein doop.
Daarvoor moet ons na ’n paar plekke gaan kyk. Eerstens wil ek weer Handelinge 2:4 aanhaal:
Hand. 2:4 “En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek.”
Daar is nie uitsondering gemaak vir ’n spesifieke ouderdomsgroep of nasie of geslag nie. ALMAL was gedoop met die Heilige Gees.
Volgende kan ons na Markus 1:4-5 gaan kyk:
Mar. 1:4 “Johannes het gekom en was besig om in die woestyn te doop en die doop van bekering tot vergifnis van sondes te verkondig.
Mar. 1:5 En die hele Joodse land en die inwoners van Jerusalem het uitgegaan na hom toe, en almal is deur hom gedoop in die Jordaanrivier met belydenis van hulle sondes.”
Wie was deur Johannes die doper gedoop? ALMAL – Klein en groot is deur hom gedoop! Daar was nie selektief gedoop nie! Daar was nie onderskeid getref wat betref ouderdomme nie!
Kom ons gaan kyk nou na Jesus self! Wie het hy gedoop?
Johannes 3:22-23
Joh. 3:22 “Hierna het Jesus en sy dissipels na die land van Judéa gegaan, en Hy het daar met hulle vertoef en gedoop.
Joh. 3:23 En Johannes was ook besig om te doop in Enon naby Salim, omdat daar baie water was. En die mense het daar gekom en is gedoop.”
Weereens is daar geen onderskeid nie! Die mense is gedoop en nie net sekere ouderdomsgroepe nie!
Die Charismate gebruik die volgende vers om die grootdoop te regverdig en die klein doop te veroordeel
Handelinge 2:38
Hand. 2:38 “En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.”
Hulle laat egter vers 39 uit wanneer hulle die woord verkondig! Kom ons kyk WIE word in vers 39 genoem!
Hand. 2:39 “Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.”
Hier word die mense wat gedoop word toegespreek en hulle KINDERS word pertinent genoem! Hier is dit baie duidelik dat die kinders OOK deel van die doop uitmaak! Hulle het dit be-erwe deur hulle ouers. Nie net die volwassenes nie maar ALMAL! Is dit dan nie juis pertinent ‘n voorbeeld van klein doop nie? Die kinders is NIE teenwoordig om daar en dan bekeer te word nie, maar GOD se genade is ook oor hulle uitgestort deurmiddel van hul OUERS. Dit beteken dat die ouers hulle kinders OOK moet doop en opvoed volgens Jesus se opdrag!
Die kinders word absoluut nêrens uitgesluit wanneer dit by die doop kom nie! Inteendeel word hulle ingesluit. Jesus het tog Lukas 18:16-17 gesê:
Luk. 18:16 “Maar Jesus het hulle na Hom geroep en gesê: Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van God.
Luk. 18:17 Voorwaar Ek sê vir julle, elkeen wat die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.”
Is dit nie duidelik dat Jesus die kindertjies as rein beskou nie? Soveel so dat Hy die kindertjies as ’n voorbeeld gebruik en sê dat hulle die koninkryk soos ’n kindjie moet ontvang! Hy gaan tot so vêr om te sê dat die kindertjies reeds die koninkryk van God be-erwe het!
Hier het Jesus baie duidelik die kindertjies ingesluit! Hy het nie gesê dat hulle uitgesluit is omdat hulle nog nie hulself bekeer het nie! Inteendeel beteken dit dat hulle hul kinders na die weg van God moet opvoed.
Deur kinders die doop te ontneem word daar ’n geweldige onreg aan daardie kinders gedoen! Daarvolgens word die kinders uitgesluit van die verbond van God en kan hulle eers deel van die verbond word as hulle hulself bekeer en laat doop! Die genade wat God vir die kindertjies gehad het, is eers van toepassing as hulle hulself laat bekeer en doop.
Dit kan nie vêrder van die waarheid wees nie! GOD het meer genade vir die kindertjies as vir volwassenes! Jy mag nie kinders uitsluit nie! Daar is nie van die kinders moet eers besluit en dan kan hulle deel van God se genade word nie! God het hulle ingesluit in die verbond nog voor hulle in die moederskoot gevorm is!
Wanneer word iemand groot gedoop?
Om dit te verstaan gaan ons weer Handelinge 2:38 gebruik
Hand. 2:38 “En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.”
Dit is tog duidelik dat onbekeerde volwassenes wat tot bekering kom gedoop moet word. Dit is “heidene” wat tot bekering kom en nie verdwaalde kinders van God nie.
As iemand wat gelowig was wat gedoop is afdwaal van die geloof en hom weer tot God wend, is die vraag. Wanneer hy terugkeer tot God, Moet hy weer gedoop word?
Nee hy moenie! Hy het klaar die genadeverbond van God ontvang. Die doop is nie ’n pynpil wat jy moet sluk as jy afgedwaal het nie! As dit so was, sou ons elke Sondag gedoop moes word aangesien ons elke dag afdwaal van God se wil.