Brits se munisipale bestuurder, Morufa Moloto, en haar lewensmaat, Letladi Emmanuel Ramoroka, word van korrupsie aangekla.
Die waarnemende munisipale bestuurder van Brits Plaaslike Munisipaliteit, Morufa Moloto (37), en haar lewensmaat Letladi Emmanuel Ramoroka (39) het vandag in die Ganyesa-landdroshof verskyn nadat hulle van korrupsie aangekla is.
Hulle is Vrydag deur die Valke in hegtenis geneem ná ’n ondersoek na bewerings van korrupsie deur die Valke se Ernstige Kommersiële Misdaad-ondersoekeenheid. Beide is R15 000 borgtog toegestaan, en die saak is tot 28 Augustus vir verdere ondersoek uitgestel.
Volgens luitenant-kolonel Tinyiko Mathebula, woordvoerder van die Valke, spruit hul arrestasie uit ‘n ondersoek na die toekenning van ‘n tender om agt skootrekenaars vir die Kagisano-Molopo Plaaslike Munisipaliteit in Ganyesa te verskaf en af te lewer.
“Die ondersoek het aan die lig gebring dat ‘n munisipale amptenaar, ‘n 37-jarige vrou, aan haar vermeende vennoot se maatskappy, ‘n 39-jarige man, ‘n tender ter waarde van R185 000 toegeken het om die skootrekenaars te verskaf en af te lewer. Ondersoeke het aan die lig gebring dat die tender toegeken is aan ‘n bieër met die hoogste kwotasie. In Maart 2018 het die munisipaliteit glo ‘n maatskappy wat aan die munisipale amptenaar se vennoot behoort, ‘n bedrag van R185 000 betaal. Met die ontvangs van die fondse het die vennoot na bewering ‘n bedrag van R150 000 oorgeplaas na ‘n maatskappy wat aan die munisipale amptenaar behoort,” sê Mathebula.
Moloto was in diens van Kagisano Molopo Plaaslike Munisipaliteit as finansiële hoof en is in 2018 voorsorg geskors terwyl ondersoeke na beweerde wangedrag aan die gang was. Sy is in Januarie 2023 as finansiële hoof by Madibeng aangestel en in April as waarnemende munisipale bestuurder.
