Kleinseun wat ouma (82) in video aanrand met waarskuwing vrygelaat

WES-KAAP. – Die kleinseun van Kraaifontein wat glo sy ouma, Sindiwe Ngqaza, op 14 Junie aangerand het, is met ‘n waarskuwing om op 27 September weer in die hof te verskyn, vrygelaat.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die NVG, sê die Kuilsrivier-landdroshof het die saak vir verdere ondersoek uitgestel en ‘n beskermingsbevel aan ouma Ngqaza toegestaan.

Die vrylating kom met sekere voorwaardes: die kleinseun sal by ‘n adres in Jaftastraat in Bloekombos tuisgaan. Hy is ook van Vrydagmiddag tot Maandagoggend in huisarres.

‘n Video van die kleinseun wat op 14 Junie sy ouma, Sindiwe Ngqaza (82) aangerand het, het viraal op die internet gegaan. Die kleinseun is in hegtenis geneem en het Donderdag vir sy skedule 5-borgaansoek in die Kuilsrivier-landdroshof verskyn.

Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die NVG, sê ouma Ngqaza het getuig die beskuldigde het in eCala in die Oos-Kaap gebly. Hy het haar gebel en gesê hy wil in die Wes-Kaap studeer.

Hy sou van die skool kom en glo saam met vriende met kriminele bedrywighede besig wees. Na bewering het hy ook haar geld en eiendom gesteel om dwelms te koop.

Op die betrokke dag het die ouma en kleinseun glo ‘n argument gehad en hy het gedreig hy sal haar slaan. Hy het haar inderdaad verskeie kere geslaan, waartydens sy haar bewussyn verloor en geval het. Toe sy die volgende oggend opstaan, was haar linkerkant verlam, waarna sy hospitaal toe is en met ‘n beroerte opgeneem is.

Ntabazalila sê ouma Ngqaza wil nie hê haar kleinseun moet op borg vrygelaat word nie, omdat sy vir hom bang is. Sy is bang hy gaan terugkeer om haar seer te maak of dood te maak. Sy het aan die hof vertel sy was van plan om ‘n saak teen hom te maak, maar hy is deur die polisie in hegtenis geneem. Die polisie het die beskuldigde van aanranding met die opset om ernstig te beseer en oortreding van die wet op ouer persone aangekla.

Ouma Ngqaza het aan die hof vertel haar ander kleinkinders het die video van die aanranding vir haar gewys.

Speurder September van die Kraaifontein-polisiestasie het getuig die kleinseun is op die aand van 3 Julie by sy ouma se huis in hegtenis geneem. Tydens die inhegtenisneming was ouma Ngqaza met beserings aan haar kop, linkerribbes en linkerbeen by Karl Bremer-hospitaal. September het borg opponeer omdat die ouma vir haar lewe vrees en die beskuldigde se lewe ook in gevaar is omdat die gemeenskap dreig om self met hom af te reken. Die kleinseun het tydens sy eerste verskyning aan September gesê hy wil selfdood pleeg en is dus ‘n gevaar vir ouma Ngqaza en homself. Daarom was hy in die hospitaalseksie van Pollsmoor-gevangenis aangehou.

Ntabazalila sê tydens kruisverhoor het September bevestig die staat het ‘n saak met genoegsame bewyse teen die beskuldigde. September het ook gesê die slagoffer het nie die saak gemaak nie, maar vanweë die publiek se reaksie is die kleinseun in hegtenis geneem.

September ontken hy het borg as gevolg van druk van die publiek teengestaan. Sommige familielede wou hom op borg hê, terwyl ander hom nie vry wou hê nie. Die kleinseun kon nie ‘n alternatiewe adres vir borg verskaf nie, wat sou beteken hy moes terugkeer na sy ouma Ngqaza se huis.

Ntabazalila bevestig die beskuldigde het in ‘n verklaring ‘n alternatiewe adres van sy ouer suster gegee.

Die borgaansoek is vir argumente na 15 Julie uitgestel.

Steve Letsike, die adjunkminister van vroue, jeug en persone met gestremdhede, het ouma Ngqaza in die Brackengate-sorgfasiliteit, besoek.

“Bejaardes verdien om beskerm en met respek behandel te word. Die mishandeling van ouer persone sal nooit geduld word nie.”

Die polisie het nadat die video op sosiale media gedeel is ingegryp en ‘n saak oopgemaak vir ‘n ouma wat deur haar kleinseun aangerand word. Die ouma wou nie ‘n saak maak nie.

Kol. Andrè Traut sê die Kraaifontein-polisie het die erns van die voorval besef met die video wat op sosiale media versprei word. Die voorval het ongeveer ‘n maand gelede gebeur en die polisie was op die toneel. Polisiehulp is glo deur die familie geweier; hulle sou die saak self aanspreek. Die ouma was vir ‘n ander voorval in die hospitaal, waar die polisie haar gaan sien het. Sy het egter geweier om ‘n verklaring te maak. Die polisie het Woensdagaand ‘n dossier namens haar oopgemaak.

“Misdade teen vroue en kinders is boaan die SAPD se prioriteitslys, en ons sal nie ons oë sluit vir enige vorm van geweld in hierdie verband nie.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui