Tuinroete-polisie onderskep dwelms na raming van R340 000 op die N2 by George

WES-KAAP – Gesamentlike pogings om die instroming van onwettige dwelms na die Wes-Kaap te bekamp met die strategiese ontplooiing van polisie langs snelweë en sekondêre roetes het weereens dividende gelewer met die onderskepping van ‘n besending dwelms met ‘n geraamde straatwaarde van R340 000-00 op die N2-hoofweg by die ingang na George.

Op Woensdag, 17 Julie 2024, het Garden Route Distrik Misdaadbestrydingspan en Flying Squad-lede gereageer op inligting oor ‘n blou Lexus-voertuig met Gauteng Provinsie-registrasieplate wat vanaf die Oos-Kaap onderweg is met dwelms aan boord. Die span het hulself langs die snelweg ontplooi en die voertuig gewaar wat die kusdorp binnekom. Hulle het die voertuig tot stilstand gebring en ‘n soektog het gevolg toe ‘n plastieksak met 979 gram tik (Metamfetamien) onder die passasiersitplek gevind is. Die waaksame lede het op die vonds beslag gelê en die bestuurder in hegtenis geneem vir die handel in dwelms. Die polisie het ook op die voertuig beslag gelê.

Wes-Kaapse Provinsiale Speurders Georganiseerde Misdaad (Narkotika) ondersoek die saak. ‘n Voorlopige ondersoek dui daarop dat die dwelms bestem was vir aflewering in George.

Die verdagte, ‘n 55-jarige Tanzaniese burger, is in polisie-aanhouding. Hy sal na verwagting op Vrydag 19 Julie 2024 sy eerste verskyning in die George-landdroshof maak.

In ‘n onverwante aangeleentheid het dieselfde span op inligting reageer en op Maandag, 15 Julie 2024 op ‘n huis in Vuyani Ncamazanastraat, Lawaaikamp naby Conville in George toegeslaan. ‘n Soektog op die perseel het gelei tot die konfiskering van 564 mandrax-tablette en 66 gram tik beraam op R66 000. Die polisie het beslag gelê op die dwelms en ‘n 39-jarige man gearresteer ook op ‘n aanklag van handel in dwelms.

Wes-Kaapse provinsiale kommissaris, luitenant-generaal (adv.) Thembisile Patekile het die lede geloof vir hul pogings om gemeenskappe van dwelms te ontslae te raak.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui