’n Johannesburg Water-straalvragmotor is Maandag deur betogende inwoners in Lenasia-Suid aan die brand gesteek.
Die entiteit het Woensdag gesê sy amptenare het pas klaar aandag geskenk aan ‘n rioolverstopping in die gebied en was op pad na hul volgende werk toe hulle aangeval is.
Die amptenare is ook van hul besittings, insluitend hul selfone en beursies, beroof.
Nombuso Shabalala, Johannesburg Water-woordvoerder, het gesê ‘n saak is intussen by die polisie geopen en die saak word ondersoek.
“Toe die ampenare die groep betogers sien terwyl hulle ry, het hulle probeer wegkom, maar die betogers het in hul rigting gegaan en klippe na die vragmotor gegooi en dit gedwing om tot stilstand te kom.
“Die betogers het die span uit die vragmotor gehaal, hul besittings gesteel en die vragmotor aan die brand gesteek. Gelukkig is die beamptes nie fisies beseer nie.
“Hierdie soort gewelddadige dade is nie ongewoon waar amptenare van die Stad Johannesburg geïntimideer en aangeval word terwyl hulle aan diens is en verhinder word om hul diensleweringspligte uit te voer nie.”