‘n Pa en sy twee seuns is Woensdag tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op ‘n man wat hulle gemeen het hulle beroof het.
Given de Koker (60), sy seuns Neillon(30) en Clyde(24), is in die streekhof in Kimberley gevonnis vir die moord op Teboho Madiehe(36).
Volgens ‘n verklaring van die Nasionale Vervolgingsgesag(NVG) is die broers op 1 Desember 2019 deur ‘n groep mans aangeval terwyl hulle van ‘n plaaslike nagklub huistoe gestap het. Hulle is van hul selfone en skoene beroof.
Hulle het hul pa ingelig oor die voorval en hulle het saam besluit om self na die rowers te gaan soek. Hulle het ‘n man langs die pad teëgekom wat hulle aangesien het as een van die rowers. Hulle het die man aangerand deur hom te skop, met ‘n mes te steek en hom met ‘n gholfstok geslaan, volgens die NVG se woordvoerder van die Noord-Kaap, Mojalefa Senokoatsane.
Die voorval is vinnig daarna by die plaaslike polisie aangemeld, sê sersant Merapelo Pilane, polisiewoordvoerder. Die drie het die persoon aangerand tot hy sy bewussyn verloor het, hom net daar in die straat gelos en die toneel verlaat sonder dat enige van goed wat hulle beweer het hy gesteel het, gevind is.
Die staat het dié feit onder die hof se aandag gebring en aangevoer dat Madiehe se reg op lewe en waardigheid geskend is, volgens Senokoatsane.
Daar was geen redes ter strafversagting voorgehou nie en die drie mans is skuldig bevind en hulle is tot lewenslange tronkstraf gevonnis. Die beskuldigdes is ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.
Speursersant Modise Clive Moshotloa is deur die bestuur van die polisie in die Noord-Kaap geloof vir sy toewyding en knap speurwerk wat tot ‘n deurbraak gelei het.
Die polisie het ook ‘n ernstige waarskuwing aan die gemeenskap gerig om nie wet in eie hande te neem nie.