Twee Franse rugbyspelers wat daarvan beskuldig word dat hulle ‘n vrou verkrag het terwyl hulle op toer in Argentinië was, is Woensdag onder tydelike huisarres geplaas na ‘n week van aanhouding.
Hugo Auradou (20) en Oscar Jegou (21) is twee dae na die span se wedstryd teen Argentinië in die stad Mendoza, in Buenos Aires, in hegtenis geneem. Hulle is verlede Vrydag aangekla van die verkragting van ‘n vrou wat hulle in ‘n kroeg ontmoet het na die wedstryd.
Die 39-jarige klaer sê die twee het haar geweldadig en herhaaldelik verkrag. Die twee spelers hou vol alle gebeure tussen die betrokke partye was vrywillig.
Auradou en Jegou is kort na die beslissing uit die sentrum verwyder waar hulle in aanhouding was.
“Dit is ‘n belangrike stap vorentoe vir die twee rugbyspelers en ook vir Franse rugby,” het die twee spelers se regsverteenwoordiger, Rafel Cuneo Libarona, gesê.
Die president van die Franse rugbyvereniging, Florian Grill, het vandeesweek gesê ‘n huurhuis is in Mendoza gevind waar die twee spelers sal bly vir die duur van die huisarres. Die families van die twee spelers dra die koste van die huur.
Natacho Romano, die klaer se verteenwoordiger het gesê solank die twee spelers in Argentinië gehou word, maak dit nie saak waar hulle bly nie.
Indien hulle skuldig bevind word, kan hulle tronkstraf van 20 jaar opgelê word.