Pak vat

Daar is sommige dinge wat deel is van die lewe waaroor ons nie wil praat nie. Eintlik wil ons ’n blinde oog gooi en maak of dit nie bestaan nie. Die probleem met die ene is dat dit onwillekeurig en onverwags gereeld sy opwagting maak by ons voordeure.  

Swaarkry. Niemand hou van swaarkry of uitdagings in ons pad nie. Ek vermoed ons verdedigingsmeganismes is al so opgestel dat ons dit met alles in ons wil vermy. Dis heel menslik. 

En wanneer dit opdaag, is dit nog meer menslik om te begin vrae vra hieroor. Hoekom nou weer dit? Hoekom word ek nou weer uitgekies om hierdie een te dra? En dan die een waarby die meeste van ons stop: Hoekom, God? 

Een ding glo ek: God is nie die Skepper van swaarkry in ons lewe nie. Onthou, God is ’n liefdevolle God wat net die beste vir Sy kinders wil hê. Ek glo wel dat God toelaat dat uitdagings in ons pad gepak word.  

Ek glo ook dat God weet tot waar ons swaarkry kan dra, voordat ons bene knak. Dit sal Hy nie toelaat nie. Ongelukkig is daar dinge wat ons net kan leer deur swaar te kry. 

Ek sê mos altyd as ons leer in die goeie tye soos wat ons leer in die swaar tye, was die swaar tye mos nie nodig nie. As dit altyd goed gaan, is ons geneig om af te dwaal en deel te word van die wêreld.  

In goeie tye het ons nie vir God nodig nie en dan dink ons ons kan die wêreld op ons eie takel. Dis net hier waar die probleme inkom, want op ons eie en met ons eie oordeel is ons erg gevaarlik en kies ons dikwels verkeerd. 

Dis hier waar God ons laat gaan, al is dit vir Hom erg om te sien hoe ons bloei as gevolg van ons eie keuses. Ek weet ons wil dit nie hoor nie, veral as ons in pyn lê en bloei, maar soms moet ons dit hoor om ons moed te gee om weer op te staan en die uitdaging in die pad weg te rol. 

Ons moet egter probeer om nie toe te laat dat ons sleggesê word en ly omdat ons verkeerd gedoen het nie. Hoor hier:  

17As God dit toelaat dat ongelowige mense julle sleg behandel, is dit darem baie beter dat hulle dit doen omdat julle goed en reg optree, soos Christene behoort op te tree, eerder as dat hulle julle so behandel omdat julle julle sleg gedra. 

Christene stap nie heeltemal in gelid met die wêreld se mense nie. Ons reg doen en hulle reg doen stem nie altyd ooreen nie. Wanneer ons bv. nie ’n deal onder die tafel wil doen nie, kan ons ’n klomp onnodige en afbrekende woorde toegesnou word.  

Dis fine, want dis omdat ons opstaan vir wat reg is. Soms kan ons hier benadeel word en swaar trek. Maar as die uitdagings in ons pad kom lê as gevolg van ons eie dom keuses en verkeerd doen, moet ons maar die pak vat en herstel waar ons kan.  

Laat ons dus seker maak dat ons dade in lyn is met God se wil, sodat ons nie onnodig pak vat nie. En as ons moet pak vat omdat ons reg doen, laat ons dit doen tot eer van God se Naam.  

Teks
1 Petrus 3:12-17 

Om oor na te dink
Waar kry jy swaar?
Het jy aandeel daarin?
Waar moet jy verander om net in God se wil te leef? 

Gebed
Vader, ek kry swaar en sukkel soms om die regte keuses te maak sodat my bene nie knak nie. Help my om my swaarkry te dra en help my om slegs binne U wil te leef. Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen. 

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui