Deur: Theo de Jager | www.oudtshoorncourant.com
Boere kla dat betreders baie selfversekerd geword het omdat hulle weet dat daar nie teen hulle opgetree word nie. Selfs as ? boer die polisie kan beweeg om ’n arrestasie te doen, is daar nooit suksesvolle vervolging of vonnisse nie.
LANDBOU NUUS – Die uitermatig hoë misdaadstatistieke op plase, of dit nou plaasaanvalle, -moorde, diefstal, brandstigting, stropery of onwettige jag is, is alles in een basiese misdaad gewortel: onwettige betreding op private eiendom.
Boere van oor die hele Suid-Afrika is raadop met betredings en kla dat nóg die polisie, nóg die vervolgingsgesag die misdaad ernstig opneem. Daar word selde indien ooit teen betreders opgetree.
Betreding is die onregmatige teenwoordigheid van mense of vee op private eiendom, en boere is veral kwetsbaar vir onwelkome vreemdelinge wat op hulle plase kom. Betreders betree nie slegs eiendom nie: Hulle sal dikwels daar vertoef; oornag; water en elektrisiteit gebruik; onwettig visvang en jag; vee, oeste en metaal steel; inbreek of die plaasbewoners aanval.
Boere kla dat betreders baie selfversekerd geword het omdat hulle weet dat daar nie teen hulle opgetree word nie. Selfs as ? boer die polisie kan beweeg om ’n arrestasie te doen, is daar nooit suksesvolle vervolging of vonnisse met ’n afskrikkingswaarde nie.
Wanneer boere self teen betreders optree, word hulle dikwels in die beskuldigdebank geplaas.
As die staat nie wetgewing toepas en orde handhaaf nie, laat dit die boere weerloos, moedeloos en hopeloos. Hulle verstaan alte goed dat die hoë misdaadsyfers vir ernstiger misdade nie gaan afneem nie, en dat spanning met plaaslike gemeenskappe onvermydelik gaan bly toeneem solank as wat die kriminele regstelsel die krisis met betredings nie ernstig opneem nie.
Die kernvraag vir boere is meer as net “Wat soek die vreemdeling op my grond?” Die vraag is eerder: “As ek nie dadelik hierdie vreemdelinge van my plaas afkry en kan uithou nie, watse omvang van skade staar my in die gesig?”
Saai is in die afgelope paar maande gekonfronteer deur lede wie se huurders hulle kontrakte gekanselleer het omdat drade elke nag geknip en beeste in hulle weidingkampe ingejaag word, ander wildboerlede wat tot bankrotskap gedryf word deur onwettige jag met honde, strikke en stropery, nog lede wie se vrugte en mielies gesteel word, en waar verdagtes deur die howe kwytgeskel word omdat boere nie eienaarskap van ’n sak vol produkte kan bewys nie.
Vir die betreder wat in besit daarvan betrap is, is daar geen gevolge nie. Geen poging om die frustrasie van boere op skrif uit te druk, kan daaraan reg laat geskied nie.
Dit lei tot voorvalle soos onlangs in Bethal waar ’n boer, Jan Shabangu, ’n onwettige jagter op sy plaas doodgeskiet het. Talle klagtes by die polisie het op dowe ore geval, totdat die frustrasie oorgeborrel het.
In September 2021 het ’n plaaseienaar van Glencoe in KZN, Garth Simpson, ’n betreder, Qiniso Dlamini, in ’n struweling gedood toe lg. probeer het om sy vuurwapen van hom af te neem. Dlamini en ’n groep betreders was met hulle beeste by ’n krip op Simpson se plaas.
Die vooroordeel van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) was skreiend in die weiering van borg, die gesloer van meer as ’n maand om ’n klagstaat aan Simpson se regspan te verskaf, en ses maande se aanhouding voordat hulle uiteindelik op grond van die beskikbare getuienis besluit het om hom nie te vervolg nie.
Boere verstaan dat die reg, ten spyte van die wet, eerder aan die betreders se kant is.
Daarom dat Saai 2024/25 as ’n jaar teen betredings op plase verklaar het, en ’n omvattende veldtog loods om wetgewing daaroor beter toegepas te kry. Die veldtog betrek verskeie ander vennote ook, en fokus veral op meer doeltreffende optrede en aanspreeklikheid deur die polisie en die NVG.
Die veldtog bestaan uit verskeie aksies, waaronder:
a) PAIA-aansoeke teen die ministers van Polisie en Justisie oor hoeveel betredings aangemeld en ondersoek is, en hoeveel verdagtes gearresteer, aangekla, skuldig bevind en gevonnis is;
b) ’n grootskaalse poging om boere te motiveer om betredings by die polisie aan te meld, en Saai daarvan in kennis te stel;
c) die inwin van inligting – Saai soek na nog geleenthede om siviele eise teen die SAPD in te stel waar hulle nie hulle werk gedoen het nie;
d) opvolgvrae in die parlement oor die SAPD se hantering van klagtes van betreding, en druk deur politieke partye.
Die veldtog sal vorentoe ontwikkel sodat Saai boere se hande kan vat om nog praktiese oplossings, vir die probleme wat deur onwettige betreding veroorsaak word, te vind.
Saai se betredingsborde is een so voorbeeld en daar is onlangs ? inisiatief geloods wat ten doel het om boere te help om ? betredingsbord vir hul plase te kry, naamlik: Borg ? bord, die boer hou die fort.
Die sukses van die veldtog hang af van die deelname van boere in die aanmelding van sake.
Sonder die beskikbaarheid van die data kan daar geen behoorlike druk op die staat uitgeoefen word om strenger op te tree teen persone wat hulle skuldig maak aan betreding nie.