God gee die geskenk van ‘n lewende mens.

Geskryf deur: Pieter van Deventer – Studente predikant  – Afrikaanse Protestantse Kerk

Genesis 2:4-7
Gén 2:4  Dit is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskape is. Die dag toe die HERE God die aarde en die hemel gemaak het,
Gén 2:5  was daar nog geen struike in die veld op die aarde nie, en geen plante van die veld het nog uitgespruit nie; want die HERE God het nog nie laat reën op die aarde nie, en daar was geen mens om die grond te bewerk nie.
Gén 2:6  Maar ‘n mis het opgetrek uit die aarde en die hele aardbodem bevogtig.
Gén 2:7  En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.

Waarvoor leef jy? Waarvoor bestaan jy? Wat is jou roeping, hier op aarde?

  • Dit is nogal ‘n belangrike vraag, nie waar nie?
  • Wat is jou doel in die lewe?

Dit is die vraag wat ek in vanoggend se preek, sommer so van die begin af, vir u wil vra. Want dit is waarby ons gaan stilstaan, vanoggend.

Wat is u doel in die lewe – en spandeer u al u tyd om daardie doel na te streef? Weet jy waarom God vir jou, 20, 30, 40 of 80 jaar gelede in die lewe geroep het? Weet jy wat sy doel daarmee was? Weet u wat Hy wil hê u met hierdie lewe wat Hy vir u gegee het moet doen?

Ek dink – as ek sommer net so in die algemeen kan praat – dat min mense met my sal stry as ek sê dat mense vandag voel hulle het nie ‘n doel nie. Mense – spesifiek jongmense – weet nie waarom hulle lewens saak maak nie.

Mense vandag, voel soos ‘n skip in die middel van die oseaan. Die seile is gesak. Daar is geen kaptein aan die stuur nie. Daar is geen eindbestemming nie. Die skip kom van nêrens. Hy weet nie hoekom hy bestaan nie. En sy enigste vraag is, “Hoekom het ek nog nie gesink nie?”

Vanoggend wil ek vir jou – vir u almal – hierdie vraag vra: Waarvoor leef jy? Waarvoor bestaan jy? Of jy nou 8 of 88 is: Wat is jou doel in die lewe?

Hier in ons teks kry ons ‘n antwoord. Die Bybel gee vir ons baie antwoorde. Daar is baie maniere hoe jy jou doel hier op aarde kan beskryf.  Natuurlik kan iemand sê: “My doel is om God te verheerlik.” En dis mooi. Dis waar. Maar ons gaan vanoggend stilstaan by ‘n bietjie van ‘n ander doel wat God ook vir ons gee.

Ons sien hier in die teks, dat God ons geskep het om ‘n geskenk te wees.  Hy gee ons – die mens – as ‘n soort geskenk vir die aarde. En dis veronderstel om vir my iets te sê oor my doel in die lewe, nie waar nie?

Dit is waarby ons gaan stilstaan, vanoggend. By hierdie feit dat ons – mense – ‘n geskenk vir die aarde is en behoort te wees.

Tema: God gee die geskenk van ‘n lewende mens.

  1. ‘n Lewende mens is nodig.
  2. ‘n Lewende mens is aards.
  3. ‘n Lewende mens is Geestelik.

1. ‘n Lewende mens is nodig

Hierdie deel wat ons nou gelees het begin deur vir ons te vertel van ‘n probleem.

  • Genesis 2:4,5: “Die dag toe die HERE God die aarde en die hemel gemaak het, was daar nog geen struike in die veld op die aarde nie, en geen plante van die veld het nog uitgespruit nie…”

Onthou wat ek heel aan die begin gesê het: Genesis 1 en 2 vertel vir ons van dieselfde ding wat gebeur het, maar vanuit twee verskillende perspektiewe.  So in Genesis 1 het ons ook gehoor van hierdie selfde probleem: Genesis 1:2: “Die aarde was woes en leeg.” In Genesis 1:2 sien God dat die aarde woes en leeg is. Dis ‘n probleem. In Genesis 2:4,5 beskryf Moses dit dat God gesien het dat daar nog geen plante opgekom het nie. En dis die probleem: Dieselfde probleem – maar twee perspektiewe op die probleem.

Maar hier’s die ding wat baie belangrik is om raak te sien: Ons moet raaksien dat deel van die oplossing is om ‘n mens te skep! Goed? Dis mos wat dit hier sê. Daar is nog geen plante nie, want God het nog nie iemand gemaak om in die tuin te werk nie.

Wat sê hierdie vir ons? Wat kan ons hieruit aflei vir ons om iets van te leer? Wel, op ‘n baie basiese vlak sê God hier vir ons, deur Moses, dat ‘n lewende mens nodig is. Die aarde het ‘n lewende mens nodig. Dis wat hierdie vir ons sê.

Vandag sê die wêreld vir ons presies die teenoorgestelde.“Die aarde het die mens nie nodig nie. Die aarde sou die beste reggekom het sonder mense. Mense is die groot paaiboelies met hulle karre en vliegtuie en trokke wat net besoedeling in die lug inpomp en aardsverwarming veroorsaak. Die aarde sou ‘n paradys wees as die mens net uit die prentjie uit verdwyn.

Maar dis nie die antwoord van die Bybel nie. Die Bybel sê: “Sonder die mens sou die aarde woes en leeg gewees het. Die aarde het mense nodig om in die tuin te werk.” En dis ‘n belangrike ding vir ons om te besef.

Ons is veronderstel om te luister na God. En wat sê God? Die probleem is nie mense in sigself nie. Die probleem is sondige mense. Die probleem is mense wat geestelik dood is. So die aarde het lewende mense nodig.

Dit moet vir ons iets sê oor ons roeping hier op aarde. Die mens het ‘n roeping op aarde. Jy het ‘n roeping op aarde. Ons lewe vir ‘n spesifieke doel. Hoekom? Want die aarde het ons nodig! Ons moet werk in hierdie grond, en sorg vir die bome en die plante en die natuur!

Dis belangrik om hierdie raak te sien. Want ons werk soms in die kerk bietjie met ‘n verkeerde idee van wat “Koninkrykswerk” is. So as ek by ‘n lekker kuier is en iemand kom vra my: “Wat is jy besig om te doen?” En ek antwoord: “Ek’s besig om teologie te studeer. Ek wil graag eendag ‘n bedienaar van die Woord wees. Dan sê hulle gewoonlik vir my: “O. Wel dis belangrik. Dis koninkrykswerk. Dis God se werk.” En natuurlik is dit waar. Maar wag ‘n bietjie: Om ‘n graaf te vat en te gaan spit in ‘n tuin is ook koninkrykswerk. Dis ook God se werk. Dis mos wat hierdie sê, nie waar nie? So ons moet ‘n bietjie anders hieroor dink.

Kom ek vra weer: Wat presies is jou roeping op aarde? Wat is jou doel op aarde? Waarvoor leef jy?

Wel, dalk moet jy ook gaan teologie studeer soos ek. Ek weet nie of dit jou roeping is nie. Maar ek is oortuig dis myne. Maar die kanse is goed dat dit dalk nie jou roeping is nie. Om te gaan spit in ‘n tuin, om ‘n professionele bloemis te wees, om groente op jou plot te plant, om met beeste of skape te boer, om ‘n besigheid op die been te bring, om ‘n wildbewaarder te word, om net gewoon te arbei in hierdie aarde – het jy al oorweeg of dit nie dalk jou roeping kan wees nie? Dit is ook God se werk daai. Dit is ook koninkrykswerk.

Ons aarde, vandag, het sulke mense broodnodig. Die aarde – die fisiese grond – smag na sulke soort mense. Kyk hier buite: Hoe lyk die aarde? Dit lyk woes en leeg. Mense praat mos van “Afrika blomme” nie waar nie? Dit is al die vullis wat so langs die pad lê. So wat is ons roeping teenoor hierdie aarde wat so vol Afrika blomme is?

Hier’s ‘n ander voorbeeld. As jy by die huis is, gaan Google bietjie: “Ocean Polution.” En kyk bietjie na die fotos wat jy daar kan sien. As Christene, is regtig veronderstel om iets te doen vir hierdie aarde. Ons harte is veronderstel om te skeur vir hierdie aarde. Hoekom? Want God het ons vir hierdie aarde geskep. Hy het gesien dat hierdie aarde “woes en leeg” is. Dat daar niks bome en plante is nie. En toe sê Hy: “Ha! Ek weet! Kom ek maak ‘n mens.”

Geliefdes, hierdie aarde wag vir ons: Romeine 8:19: “Die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God.” Die aarde wag vir ons. Die aarde wag vir jou. So waarvoor wag jy? Waarvoor wag ons?  Watter soort geskenk is ons vir hierdie aarde?

2. ‘n Lewende mens is aards

Vers 4 en 5 gee vir ons die probleem. En vers 6 en 7 gee dan vir ons die oplossing:

  • Vers 6: “Maar ‘n mis het opgetrek uit die aarde en die hele aardbodem bevogtig.
  • Vers 7: En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.”

Vir vandag gaan ons veral fokus op vers 7. As die HERE wil sal ons by die volgende preek stilstaan by daardie “mis” wat opgetrek het uit die aarde. Maar vir nou fokus ons op die geskenk van ‘n mens. God gee die mens as ‘n geskenk vir die aarde.

Wat kan ons hier in vers 7 leer? Wat sê hierdie vers vir ons? Vra uself bietjie af. Wel, vers 7 leer vir ons ‘n baie belangrike beginsel: Mense is aards.

  • Vers 7: “En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde.”

Hierso is hoekom dit belangrik is. Laat ek bietjie verduidelik. Roeping vloei voort uit identiteit. Dis ‘n bietjie ingewikkeld, so kom ek verduidelik net wat ek daarmee bedoel. Dink ‘n bietjie aan die stories wat mens lees oor die Anglo-Boereoorlog. Goed? Ken u daardie stories? Nou as mens daardie stories lees en jy lees van ‘n verraaier, dan begin jou bloed sommer te kook, nie waar nie? Ek weet nie van jou nie, maar ek het nog nooit terwyl ek so besig was om so ‘n storie te lees die boek neergesit en gedink: “Hhhhmmm… Was hierdie ou se roeping nie dalk om sy volk te verraai nie?” Dis mos belaglik. Dit kan nie jou roeping wees om jou eie volk te verraai nie. Dis dom om dit te dink!

Dis wat ek bedoel as ek sê dat roeping voortvloei uit identiteit. Jy is ‘n Afrikaner. Dit is ‘n soort kulturele identiteit. Jy het daardie wortels. Jy het daardie geskiedenis. Jy het daardie herkoms. Goed? Dit vorm deel van jou identiteit. En daarom het jy dan ‘n roeping teenoor die Afrikanervolk, nie waar nie? Roeping vloei voort uit identiteit.

Maar hoekom is dit belangrik? Want hierdie vers in die Bybel – Genesis 2:7 – sê vir jou dat deel van jou identiteit – van wie jy is – is aards. Jy is aards. Ons is gemaak uit die aarde. Ons is fisies. Ons is aards. Daarom het ons ‘n roeping teenoor die aarde. Sien jy? Net soos ek ‘n roeping het teenoor die Afrikanervolk het ek ook ‘n roeping teenoor die aarde.

Ons dink heeltemal verkeerd oor fisiese dinge. Mense het hierdie verkeerde idee oor hulle liggame, en oor alle fisiese dinge. So baie keer hoe ons oor ons liggame praat, is ons sal dit sê op ‘n manier soos: Jou liggaam is eintlik maar net soos jou klere. Dis net iets wat jou siel aantrek. Dis nie eintlik deel van jou identiteit nie. Jy is ‘n gees. En jy het ‘n liggaam. Jou identiteit is jou siel. En jou liggaam is maar net iets wat jy het. Soos ‘n kar, of ‘n yskas of ‘n wat ook al. Jy het al hierdie dinge, en onder andere: ‘n Liggaam. Dis jou klere wat jy aantrek. Maar jou siel is eintlik wie jy is. Jou liggaam is net die broek of die hemp wat jou siel aantrek.

Maar dis nie waar nie – dis nie wat ons hier lees nie. ‘n Mens is fisies en geestelik. Hy is gemaak uit die aarde. Sy liggaam is deel van sy identiteit.

Wat sê dit vir ons? Wel, ons kan nie net hier afry in ‘n straat, en sien hoe plastiek sakke oral rondlê, en dan sê: “Ag toemaar. Ten minste is dit net die aarde wat verwoes word. Die hemel kan nooit verwoes word nie.” Nee! Ons het ‘n roeping teenoor die aarde, net soos elke Afrikaner ‘n roeping het teenoor die Afrikanervolk! Ons is gemaak uit die aarde! Ons het ‘n roeping!

En ons mis hierdie regtig in die kerk vandag. Ons roeping is nie net geestelik nie. Dis nie net daar hoog en droog, as ons doodgaan gaan ons êrens rondsweef op ‘n wolkie en speel op ‘n harp nie. Dit is so dat hemelse dinge vir ons belangrik moet wees, maar aardse dinge ook. God het ons uit die aarde gemaak, en daarom het ons ‘n verantwoordelikheid teenoor die aarde gemaak. Ons is gemaak uit die aarde, vir die aarde.

3. ‘n Lewende mens is Geestelik

Vers 7: “En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas.”

Hier’s nog ‘n ding waarop ons moet infokus in hierdie vers. En dit gaan oor “die Asem van die Lewe.” Wat is hierdie Asem van die Lewe? Wel, dit is ‘n verwysing na God die Heilige Gees.

Jy kan dit op ‘n paar maniere raaksien. Gees en Asem in Hebreeus is baie naby aan mekaar. Die Hebreeuse woord vir Gees kan soms selfs as “asem” of “wind” vertaal word. En die Hebreeuse woord vir “asem” kan soms as “gees” vertaal word. So dis amper, soms, sinonieme. Gees en asem.  Maar nog ‘n ding: Heeltyd in die Bybel word die Heilige Gees gekoppel aan lewe.  Hy is die Gees van lewe. So om “asem” en “lewe” te hê beteken basies jy het die ware lewe – jy het die Heilige Gees in jou. Maar daar is ‘n baie meer direkte manier hoe ons kan sien dat hierdie praat van die Heilige Gees. In die Nuwe Testament, in Johannes 20:22 dan sinspeel Jesus op wat hier gebeur het. So ons lees daar:“En nadat Hy dit gesê het, blaas Hy op hulle en sê vir hulle: Ontvang die Heilige Gees.” Sien julle daai? So weer ‘n keer blaas Hy op hulle. Hy blaas op sy dissipels. Hy gee vir hulle die Asem van die Lewe. Maar wat sê Hy dan vir hulle is hierdie Asem van die Lewe? Wel, dis die Heilige Gees.

Dis die derde punt van ons preek, vanoggend: ‘n Lewende mens is Geestelik met ‘n hoofletter “G.” ‘n Lewende mens het die Heilige Gees in hom.

Hier’s hoekom dit belangrik is vir ons, om hierdie te besef. Kyk bietjie na die aarde: Lyk dit vir julle asof die mens besig is om te doen wat ons veronderstel is om te doen? Leef ons ons roeping uit teenoor die aarde? Sommer net so in die algemeen: Dink jy die mensdom is ‘n geskenk vir die aarde? Is ons ‘n seën vir die aarde, of ‘n vloek vir die aarde? Wel, ek dink soms is ons regtig ‘n vloek, nie waar nie?

Maar hoekom? Hoekom kry ons dit nie reg om hierdie aarde te onderhou nie? Hoekom laat ons hierdie aarde so lelik lyk? Wel, hou vas aan daai gedagte. Ons kom netnou terug daarna.

Hier is eers ‘n ander vraag: Hoe voel jy oor jou roeping? Dalk het jy nou al uitgevind wat jou doel op aarde is. Jy weet waarvoor jy leef. En jy weet dat jy ‘n roeping het teenoor hierdie aarde. Maar soms voel dit mos net asof mens nie die krag het om daardie roeping ten volle uit te leef nie, of hoe?  Soms voel dit asof jou roeping ‘n straf is, nie waar nie?

Nou as ek so voel, wat moet ek dan doen?

Hier is die antwoord wat ons teks vir ons gee: Ons almal het die Heilige Gees nodig. Dis die probleem! Ons leef in ‘n wêreld vol mense wat steeds aards is, maar hulle het nie meer die Asem van die Lewe in hulle nie. Hulle is aards, maar hulle is geestelik dood. Hulle is nie meer Geestelik met ‘n hoofletter “G” nie! Dit is hoekom die wêreld lyk soos hy lyk. Dit is hoekom mense nie goeie geskenke is vir die aarde nie. Dit is hoekom die mensdom vullis oral rondstrooi. Dit is hoekom daar soveel besoedeling is. Dit is waar al hierdie probleme vandaan kom. Want die mensdom het nie meer die Heilige Gees in hulle binneste nie. Hulle is geestelik dood!

En tot ‘n mate is dit my en jou probleem ook: Ons het ook nodig dat die Heilige Gees nog meer en meer in ons lewens begin werk. Want waar kan ek die krag vandaan kry om my roeping ten volle uit te leef? Wie kan my motiveer om te arbei en te arbei en te arbei in hierdie aarde – selfs wanneer dit vir my hopeloos voel? Wie kan my help om dag vir dag vir dag werk toe te gaan selfs al voel dit vir my asof dit geen verskil in die wêreld maak nie?

Net die Heilige Gees! So ek het nodig dat die Heilige Gees tot nog ‘n groter mate in my begin werk!

Maar hoe kan Hy? Ek is dan so vol sonde!

Dit is die eintlike probleem! Ons, die mensdom, het in sonde geval. Die Heilige Gees het ons verlaat, want Hy woon nie in sondige mense nie.

Ons sit hierso – ons is aards, maar nie meer Geestelik met ‘n hoofletter “G” nie.  Ons stap hier rond op hierdie aarde, maar ons het nie meer die Asem van die Lewe in ons nie.  Ons probleem is eintlik net so groot – of nog groter as die probleem van die aarde. Sien, op ‘n manier, as die Heilige Gees my lewe verlaat, dan word my persoonlike lewe ook weer so “woes en leeg.” So hier sit ons op die aarde. Die aarde vergaan, en ons vergaan saam met die aarde.

Ons het ‘n Geskenk nodig! Ons het Iemand nodig wat nie net die aarde kom verlos nie, maar ons saam met die aarde! En daardie Iemand is Jesus! Hy is die ware mens! Hy is die Tweede Adam! Hy het fisies, aards, geword! Johannes 1:14: “En die Woord het vlees geword.” Jesus, die ware, lewende mens het gekom.  Hy het uit die hemel gekom en aards geword. Hy is die Ware Geskenk wat God die Vader vir die aarde kom gee het! En Hy het kom sterf aan ‘n kruis sodat Hy my en jou sondes kan wegwas! Ons is skoon! Ons is rein! Die Heilige Gees kan weer in ons kom woon! En nou is hierdie selfde Jesus besig om deur sy Gees en deur sy Bruid weer ‘n keer hierdie aarde te herstel! Hy is weer besig om hierdie aarde te red!

Jesus neem sy roeping ernstig op! Sien, Hy het die aarde kom deel maak van sy identiteit. Hy het aards geword. Hy het nie ‘n liggaam kom aantrek soos ‘n pak klere nie. Nee, Hy het vlees geword – Hy het ‘n liggaam geword! Dit is deel van sy identiteit! En roeping vloei mos voort uit identiteit! So Hy het nou ‘n roeping teenoor hierdie aarde, en Hy is besig om daardie roeping te vervul.

Dink net vir ‘n oomblik daaraan: Wat as Jesus hier was vanoggend. Wat as ons voor Hom kon gaan neerkniel. En met soveel respek vir Hom kon vra: “Waarvoor leef U? Wat is U doel? Wat is U roeping?” Wat sou Hy sê?  Wel, een van die dinge sou wees: Dat Hy leef om hierdie aarde te herstel. Johannes 3:17: “Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.”

Daarom: Omdat dit Jesus se roeping is, en omdat Hy sy Gees in my ons harte kom uitstort het om deel te word van sy roeping ook, daarom kan ek en jy dan uitgaan in hierdie wêreld in, en ‘n verskil begin maak.

Kom ons sluit af

Waarvoor leef jy? Waarvoor bestaan jy? Wat is jou doel op aarde? Dis hoe ek die preek begin het. En dis hoe ek ook hierdie preek wil afsluit.

Geliefdes, soveel mense leef sonder ‘n doel. Hulle leef sonder om te weet hoekom hulle leef. Hulle leef, maar eintlik nie. Eintlik is hulle dood. Jy sien hulle so rondstap: As ek die Engelse woord kan gebruik: Hulle is soos “zombies.” Hulle is eintlik dood – hulle lyk maar net lewendig.

Dis die toestand van die wêreld. Mense wat Geestelik dood is. Hulle het nie ‘n identiteit nie. Hulle het nie ‘n roeping nie. Hulle het nie die Asem van die Lewe nie.

Maar ons het ‘n roeping. Ons roeping, is om in hierdie wêreld in te gaan en weer te begin om van dit ‘n tuin te maak. Op klein maniere, op watter maniere ook al jy kan, moet u en ek hier uitgaan en ons moet besig wees om hierdie aarde ‘n beter plek te maak.

Dis nie ons enigste roeping nie. Maar dis ‘n baie belangrike ene. So hier is my vraag vir jou, weer ‘n keer: Waarvoor leef jy? Waarvoor bestaan jy? Wat is jou doel op aarde? Amen.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui