‘n Wenk aan die polisie oor ‘n voertuig wat by ‘n kaping betrokke was, het gelei tot die arrestasie van vier mense.
Die Lyttelton-polisie en Monitor Net-sekuriteit het Vrydag vier verdagtes vir die besit van motorbreek-toerusting in Pretoria-Wes in hegtenis geneem.
Woordvoerder ao Johan van Dyk sê die polisie het inligting ontvang oor ‘n silwer Nissan Qashqai wat in ‘n kaping gebruik is.
Ná die wenk is ’n multi-dissiplinêre operasie van stapel gestuur en beamptes is in Pretoria-Wes ontplooi.
Die span het ‘n voertuig gemonitor wat ooreenstem met die beskrywing van die verdagte se voertuig, met vier insittendes binne. Dit is opgemerk waar hy in Pretoria-Wes, na Danville, ry.
Van Dyk sê die verdagtes het van die beamptes gevlug en ‘n hoëspoed-jaagtog het gevolg. Maatreëls om die voertuig te stop is getref en die motor is in die Danville-woongebied voorgekeer.
Vier verdagtes is deur die Lyttelton-polisie in hegtenis geneem omdat hulle in besit was van motorbreektoerusting, sê Van Dyk.
“Die voertuig is na die aangewese voertuigmisdaadondersoekeenheid geneem vir beveiliging en verdere ondersoeke,” voeg hy by.