2 vroue in Polokwane met dooie ietermagog in hegtenis geneem

‘n Gemeenskap se waaksaamheid het gelei tot die arrestasie van twee vroue wat na bewering ‘n dooie bedreigde dier probeer verkoop het.

Twee vroulike buitelandse burgers is in Greenside in Polokwane gearresteer terwyl hulle na bewering probeer het om ‘n dooie ietermagog vir meer as R100 000 te verkoop.

Die vroue, onderskeidelik 37 en 44 jaar oud, het gister voor die Seshego-landdroshof verskyn op aanklag van die oortreding van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur Biodiversiteit 10 van 2004.

Hulle is Vrydag tydens ‘n klopjag in hegtenis geneem ná ‘n wenk van die Greenside-gemeenskap, naby Seshego.

Polisiewoordvoerder kolonel Malesela Ledwaba sê die duo het na bewering probeer om die bedreigde dier vir R125 000 te verkoop.

“Die gemeenskap het deurslaggewende inligting aan die polisie verskaf en hulle gewaarsku van die onwettige aktiwiteit.

“Die polisie het op die wenk opgetree en lede van die sigbare polisiëring eenheid, saam met omgewingsake amptenare, het ‘n klopjag uitgevoer en die verdagtes in hegtenis geneem.”

Ledwaba sê die dooie dier is teruggevind en die polisie ondersoek die saak.

Volgens die World Wide Fund for Nature is daar agt pangolienspesies, wat op twee kontinente voorkom. Hulle word onder nasionale en internasionale wette beskerm, en twee word as kritiek bedreig op die Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur se Rooilys van Bedreigde Spesies gelys.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui