Die George-polisie het Sondag vier mans in hegtenis geneem in verband met twee voorvalle van moord wat die vorige nag plaasgevind het.
Polisiewoordvoerder, sers Christopher Spies, het gesê die twee moorde het Saterdag net ‘n paar minute uitmekaar by Borchards naby Conville in George plaasgevind.
Hy het gesê in die eerste voorval is die polisie omstreeks 20:55 na ‘n toneel in Spandielstraat uitgestuur.
“Met hul aankoms het die lede ‘n man met ‘n skietwond in die bors gevind.
“Die 31-jarige slagoffer is later deur paramedici op die toneel dood verklaar.”
Hy het gesê omstreeks 21:00 is die polisie na ‘n ander toneel in dieselfde straat ontbied waar ‘n man in ‘n kothuis geskiet is.
“Die lede het na die toneel gegaan en die slagoffer (19) met skietwonde aan sy bors en arm gevind.
“Hy is ook deur paramedici op die toneel dood verklaar.
“ ’n Ondersoek na hierdie voorvalle het onmiddellik begin en misdaadtoneelkundiges het die tonele gefynkam vir leidrade.”
Spies het gesê die ondersoek het gelei tot die inhegtenisneming van vier mans Sondag.
“Die viertal, tussen 29 en 33 jaar oud, bly in polisie-aanhouding.
“Hulle sal na verwagting Dinsdag hul eerste hofverskyning maak op aanklag van moord.”
Die motief vir die moorde moet nog vasgestel word.