Teksvers: Eksodus 20:12 Eer jou vader en jou moeder, dat jou dae verleng mag word in die land wat die HERE jou God aan jou gee.
In die 10 gebooie word daar pertinent melding gemaak hoe jy teen jou ouers moet optree. Aan die voorwaarde is ’n belofte gekoppel.
Dit is duidelik dat die Here van ons verwag om eervol teenoor ons ouers op te tree. In sekere “geloofskringe” word daar ernstig kapsie gemaak teen dae soos Moedersdag en Vadersdag.
Is dit nie dalk juis ’n informeel geskepte dag om juis aan die 10 gebooie gehoor te gee nie? Is dit nie juis daar om 1 dag af te sonder om eer aan ons moeder en vader te bring nie?
Dit is nie asof ons, ons moeder en vader aanbid met so ’n geleentheid nie, maar eerder om vir God dankie te sê dat ons ’n moeder en ’n vader het om ons te lei en te leer. Dit is eerder om te sê dat ons eer aan ons ouers bring SOOS VEREIS DEUR DIE Bybel!
Ja, ons moet elke dag van ons lewe aan ons ouers eer bring. Dit keer ons nie om een dag aan ons ouers af te staan om dankie te sê nie.
Paulus het tog immers gesê:
Romeine 14:6 Hy wat die dag waarneem, neem dit waar tot eer van die Here; en hy wat die dag nie waarneem nie, neem dit nie waar nie tot eer van die Here; en wie eet, eet tot eer van die Here, want hy dank God; en wie nie eet nie, eet nie tot eer van die Here, en hy dank God.
Dit word tog tot eer van die Here waargeneem deur Sy gebooie na te kom. Dit word nie tot eie eer of enige ander gode waargeneem nie, maar met God se gebooie in ons gedagtes.