Drie polisiebeamptes is in Gauteng in hegtenis geneem. Die beamptes het na bewering ‘n motoris by ‘n Vrystaatse vulstasie beroof. Beelde van die rooftog doen die rondte op sosiale media.
Drie polisiebeamptes is in hegtenis geneem in verband met ‘n rooftog by ‘n Vrystaatse vulstasie.
Die polisiebeamptes is in hegtenis geneem nadat foto’s aan die begin van die maand op sosiale media die rondte gedoen het, wat na bewering wys hoe hulle ‘n man by ‘n vulstasie in Welkom beroof.
Polisiewoordvoerder, brigadier Athlenda Mathe, het gesê: “Op foto’s wat op sosiale media-platforms sirkuleer, word twee mans en ‘n vrou gesien wat SAPD koeëlvaste baadjies en ‘n SAPD-masker dra.”
Sy het bygevoeg dat ‘n wit VW Polo-sedan wat in die rooftog gebruik is, blou ligte gehad het.
“Maksimum hulpbronne is gemobiliseer, en ’n toegewyde span speurders het aan die saak gewerk om die verdagtes op te spoor,” het sy gesê.
Twee konstabels en ‘n sersant is Saterdag in Gauteng in hegtenis geneem, het sy gesê.
Mathe het bygevoeg dat voorlopige ondersoeke aan die lig gebring het dat drie beamptes na bewering ‘n voertuig afgetrek en die man beveel om uit te klim. Die man het geweier en na die naaste vulstasie gery, met die beamptes wat hom gevolg het. By die vulstasie het die polisiebeamptes na bewering die slagoffer se selfoon gegryp en weggejaag.
Nasionale polisiekommissaris, generaal Fannie Masemola, het gesê interne departementele dissiplinêre verrigtinge word bespoedig.
“Ons veroordeel hierdie gedrag en keur nie dade van misdadigheid en korrupsie binne ons geledere goed nie. Ons sal voortgaan om beslissend op te tree teen diegene wat nie die SAPD se gedragskode gehoorsaam nie, sonder vrees of guns,” het Masemola gesê.