Geskryf deur: Ds. Adri van Staden – Afgetrede Afrikaanse Protestantse kerk leraar
Teksvers:
Jesaja 5:20 “Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter”.
Jesaja gaan voort om die redes vir die komende oordeel oor die volk te beskryf. Wat hy hier beskryf, is tipies van die verlore sondaar: Hy draai die werklikheid om sodat dit wat goed of lig of soet is, sleg, donker en bitter genoem word.
Die leuen word verkondig as die waarheid en baie mense begin om die leuen te glo en die waarheid te verwerp. Alles wat sleg is, word as goed voorgestel en verkondig. Hulle verlei die massas om soos hulle te dink en agter hulle idees aan te loop.
Die goeie en die slegte staan egter teenoor mekaar en kan nooit versoen word nie, net soos lig en duisternis en soet en bitter teenoorgesteldes van mekaar is.
Ons beleef hierdie verskynsel in die besonder in ons tyd. Te wyte aan die massakommunikasiemedia word hierdie valse denke oral verkondig en gepropageer en miljoene laat hulle daardeur mislei. Dit is die tekens van die naderende eindtyd.
Oor hierdie misleiers en hulle fanatiese volgelinge spreek God by monde van Jesaja sy oordeel uit – sy ewige oordeel.
Bid dat die Here sy kinders van hierdie misleiding sal bewaar.