Die opsomming van die wet sê dat ons vir God moet lief wees met ons hele hart en siel en krag en verstand. Met ons hele wese, met alles in ons moet ons God dien. Daar moenie ’n stukkie van ons wees wat nie aan God toegewy is nie.
Die hart en verstand met al ons krag is heel verstaanbaar. Maar het jy al bietjie gedink wat is jou siel? Dis baie belangrik dat ons verstaan wat ons siel behels, want dis juis ons siel wat vir altyd bly lewe.
Alle mense wat al gelewe het, wat nou lewe en nog gaan lewe, het ’n siel. Ons siel ontvang ons op ons geboortedag. Toe het God Sy asem in ons geblaas en het ons lewe op aarde begin.
Ons siel is nie fisies, soos ons liggaam nie. George Mcdonald het gesê ons het nie ’n siel nie. Jy het wel ’n liggaam, maar jy is siel. Kan ek dit weer sê: ons het nie ’n siel nie. Jy het wel ’n liggaam, maar jy is siel.
Die dag as ek my aardse liggaam agterlaat, gaan my siel voort om te lewe. En daar is net een van twee plekke waar ons siel kan opeindig. Die een is die hemel en die ander een nie die hemel nie. Jy weet mos waar, nè?
Ek sê altyd dat ons almal op die aarde geplaas is om een keuse te maak. Dis ’n keuse om te besluit in watter groep ons vir die res van die ons lewe wil leef. Kies ons vir die Een wat lewe in ons geblaas het en geboorte geskenk het aan ons siel of kies ons vir die ander groep.
Die keuse wat ons hier op aarde maak, het ’n reuse invloed op ons toekoms. As ek dit reg verstaan, gaan die mens se siel nie dood nie. As jy dus hier op aarde kies om Jesus as jou Verlosser aan te neem, leef jou siel vir ewig saam in God se woning.
Net so tussen hakies, wanneer begin die Ewige Lewe? Ek het hier ’n voetfout gemaak. Ek het gedink dat ons die Ewige Lewe betree die dag waarop ons liggaam die wêreld verlaat.
Maar daai is nie reg nie. Ons Ewige Lewe het reeds begin. Die dag toe ons vir Jesus aangeneem het as ons enigste Here, het ons Ewige Lewe opgedaag. Ons is reeds besig om vir ewig te lewe.
Ongelukkig is daar baie mense wat nie hiervoor kies nie, soos al die mense daar in Noag se dorp. 20Dit is die mense wat lank terug in Noag se tyd geleef het. God was destyds darem baie geduldig met daardie mense. God het hulle ’n unieke kans gegee terwyl Noag sy skip gebou het. Tog wou hulle nie hoor nie. Hulle het maar aangehou om hulle nie aan God te steur nie.
God is geduldig en gee mense aanhoudend kanse om ’n keuse vir Hom te maak. Maar in plaas daarvan dat die mededorpenaars van Noag hulle oë oopgemaak en hul siel tot inkeer gebring het, het hulle gekies om te lag. En vandag is hulle siele nie in die hemel nie.
Ons moet erns maak met die ene en seker wees dat ons wel ’n keuse vir Jesus as ons Verlosser gemaak het. Ons moet seker maak dat die geliefdes om ons ook die keuse gedoen het en indien nie, moet ons vir hulle ’n voorbeeld wees, sodat hulle ook eendag vir God sal kies.
Teks
1 Petrus 3:18-22
Om oor na te dink
Waar trek jou siel?
Waarheen is jou siel op pad?
Wie moet jy help met sy siel?
Gebed
Vader, ek bevestig net weer dat ek vir Jesus aanneem as my Verlosser en Saligmaker. Dankie dat ek weet dat my siel vir ewig by U sal lewe. Amen.