Haar suster “met die mooiste hart” wat vir jare ’n stryd teen ’n outo-immuunsiekte gevoer het, is in haar arms dood nadat sy etlike kere met ’n mes gesteek is.
“Sy het uitgebloei, sy kon nie eers iets vir my sê nie,” het Yolande Hurst (49) van Phalaborwa in Limpopo gesê nadat haar suster, Madelein Hurst (51), Donderdag in die dorp vermoor is.
ʼn 28-jarige man wat vir die moord op sy tannie, ʼn onderwyseres van Laerskool Phalaborwa Noord, verdink word, is Maandag borgtog geweier.
Volgens kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, is Hanno Steinberg verlede Dinsdag in hegtenis geneem nadat die polisie op die 51-jarige Madelein Hurst se liggaam in haar huis op Phalaborwa afgekom het.
“Die polisie is omstreeks 15:00 na die toneel ontbied. By die polisie se aankoms is die oorledene met verskeie steekwonde aangetref.
“Voorlopige ondersoeke het aan die lig gebring dat die verdagte sy tannie se huis binnegedring het. Sy was glo op die rusbank toe hy haar begin aanval het.
“Hurst se pa het probeer om haar te red en sy het self ook na buite probeer hardloop, maar Steinberg het albei oorval en Hurst verskeie kere met ʼn mes gesteek,” sê Ledwaba.
Dit is nie in hierdie stadium duidelik of Hurst se pa ook in die voorval beseer is nie.
Die verdagte is later deur ʼn buurman voorgekeer, waarna die polisie hom in hegtenis geneem het.
Ledwaba sê verdere inligting dui daarop dat Steinberg vroeër by die gesin tuisgegaan het. Hy is egter “weens onaanvaarbare gedrag” uit die huis geskop.
Steinberg het Maandag in die Phalaborwa-landdroshof op aanklag van moord verskyn. Die saak is tot Vrydag vir ʼn formele aansoek om borgtog uitgestel.