Middelburg Poskantoor ’n nagmerrie van ontlasting, naalde, gemors

Inwoners stap ’n hinderlaag binne, want naas grypdiewe, moet hulle gereeld oor die gemors by die poskantoor spring, om nie in ontlasting of gebruikte spuitnaalde te trap nie.

Inwoners wonder hoe werknemers van die poskantoor viendelik en hulpvaardig moet bly terwyl hul werksomgewing gesondheidsgevare inhou weens dwelmverslaafdes en leeglêers wat die poskantoorgebou op horings geneem het.

Me. Maya van den Berg sê dit maak haar en haar man fisies siek om te gaan pos uithaal, oor al die gemors wat daagliks deur dakloses agtergelaat word.

Hulle het Maandag weer gaan pos uithaal en besluit om die Middelburg Observer te skakel, omdat die poskantoor self, blykbaar min geskeel is oor die toestand van die gebou buite, terwyl personeel alles in hul mag doen om hul fasiliteite binne netjies en skoon te hou.

In Mhluzi staan die poskantoorgebou al jare lank leeg weens derduisende in uitstaande huur, wat tot vandag nog nie deur die posdiens vereffen is nie.

Verskeie gemeenskapsorganisasies het al aansoek gedoen om die Mhluzi gebou oor te neem en in stand te hou, sonder sukses.

Terwyl die Mhluzi gebou tot nou toe ongeskonde gebly het weens die feit dat dit feitlik oorkant die Mhluzi polisiestasie geleë is, kan dieselfde nie gesê word van Middelburg se gebou in die sakekern nie.

Honderde inwoners het geen ander keuse as om die misdaadvose sakekern te besoek vir hul pos nie.

Soos me. Van den Berg, wat minstens tweeweekliks pos gaan uithaal, moet ander inwoners die gebou minstens een maal per maand besoek.

Hulle stap egter ’n hinderlaag binne, want naas grypdiewe, moet hulle gereeld oor die gemors by die poskantoor spring, om nie in ontlasting of gebruikte spuitnaalde te trap nie.

“Dit is skandelik en iets moet gedoen word,” kla me. Van den Berg.

Die Van den Bergs het fotos van Maandag se gemors verskaf en dis heel duidelik dat Middelburg se wetstoepassers beheer oor die dorp se rondswerwers verloor het.

Hulle vermenigvuldig feitlik daagliks en dakloosheid was nog nooit so reuse probleem in die dorp soos nou nie.

Verskeie besighede soos die melkery by die Tosca sentrum in Kanonkop, het ’n verstandhouding met boemelaars gehad, dat hulle op die stoep mag oornag, mits hulle opruim agter hulself en uit die oog is teen sonop.

Dié mutualisme was vir beide, en boonop vir die publiek ook voordelig.

By die poskantoor is dit ’n perd van ’n ander kleur en stort inwoners selfs nou hul huishoudelike gemors onwettig op die historiese gebou se stoepe.

Die poskantoor se kommunikasiehoof, Suzie Khumalo, sê sy kan nie kommentaar lewer nie, en het navrae na Louise Brugman van Vestor besigheidsredding verwys.

Me. Brugman sê die probleem is eenvoudig geld, en dat die poskantoor onder besigheidsredding is. Die beskikbare geld word gekanaliseer na waar dit die nodigste gate toestop, wat 24-uur sekuriteit ongelukkig uitsluit.

Die polisie is egter weer die week genader vir hulp, en me. Brugman sê dat daar ook aansoek gedoen is vir nagtelike sekuriteit, wat nog goedgekeur moet word.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui