Ekonomiese herstel: Solidariteit beveel universele inkomstetoelae verlaagde belasting aan

Solidariteit se navorsers beveel aan om die toelaestelsel te stroomlyn en die belastinglas te verlig as twee maniere om ekonomiese groei vir Suid-Afrika se ekonomiese herstel te skep.

Solidariteit glo dat sterk ekonomiese groei die basis moet wees vir ‘n sterk Suid-Afrika waarin alle gemeenskappe en Suid-Afrikaners tot hul reg sal kom.

Dit was die stelling wat ekonomiese navorsers by die bekendstelling van die ekonomiese herstelplan van die Solidariteit Navorsingsinstituut in Pretoria op 10 Julie gemaak het.

‘n Afskrif van hierdie plan is ook aan die Nasionale Tesourie in Pretoria oorhandig.

Die organisasie hoop dat daar in die weke ná die verkiesing aandag gegee sal word aan voorstelle wat die ekonomie onmiddellik sowel as op lang termyn kan bevoordeel.

Sommige van hierdie aanbevelings sluit die instelling van ‘n universele inkomstetoelaag in.

Ekonomiese navorser Theuns Du Buisson het in sy verslag gesê as ’n universele inkomstetoelaag van R500 per maand aan almal tussen die ouderdomme van 18 en 60 betaal word, kan dit die maatskaplike verligting van die noodtoelaag en die kinderonderhoudtoelaag vervang.

Volgens die jongste bevolkingsskattings is daar tans 37,2 miljoen volwassenes tussen die ouderdomme van 18 en 60 in die land.

Du Buisson het in die verslag gesê dié verandering kan nie oornag gemaak word nie en sal deur navorsing voorafgegaan moet word om te verseker dat mense wat tans van die kinderonderhoudstoelae afhanklik is nie tydens die oorgang benadeel word nie. Hy het gesê dat alhoewel meer geld sy weg na die armes sal vind deur ‘n universele basiese inkomstetoelaag, die oorgang versigtig bestuur sal moet word.

Hierdie oorweging is gemaak op grond van die navorsing, wat getoon het dat ondanks groter toegang tot toelaes, in 2023 13,5% van huishoudings en 15% van individue gesê het hulle is kwesbaar vir honger en toegang tot voedsel.

Die verslag beklemtoon ook prioriteite wat die staat moet nastreef om ekonomiese herstel te bewerkstellig, wat die vestiging en instandhouding van infrastruktuur, ‘n ligte belastinglas en ‘n stabiele geldeenheid insluit.

Die verslag maak sekere aanbevelings oor belasting.
Volgens die navorsers moet die enorme belastinglas op gewone Suid-Afrikaanse burgers in sy geheel hersien word.

Die eerste om aandag te kry moet korporatiewe belasting wees.

“Ons moet nader aan die internasionale teiken van 15% maatskappybelasting beweeg. Alle vastekapitaalbeleggings behoort ten volle belastingaftrekbaar te wees, om voortgesette groei aan te moedig,” het Du Buisson gesê.

Navorsers beveel ook aan dat die onafhanklikheid van die Reserwebank herbevestig moet word.

“Enige sprake van staatsinmenging in die Reserwebank se bedrywighede moet in die kiem gesmoor word,” het Du Buisson gesê.

Die verslag neem die kritieke verval van staatsentiteite wat in Suid-Afrika plaasgevind het in ag en sê waar die verval sulke nadelige uitkomste het soos in die polisie en regstelsel, onderwys en die vervoerstelsel, is dringende ingryping nodig.

Die verslag beweer die manier om dit te bereik is om ‘n spesiale prioriteitsafdeling in die tesourie te vestig, wat kritieke sektore binne 18 maande regruk. Die departement moet een taak hê om per periode te voltooi. Prioriteite vir die eerste vyf jaar moet misdaad, onderwys en vervoer wees.

Wat gesondheidsorg betref, is die oplossing volgens Du Buisson om die openbare gesondheidstelsel te omskep in ‘n werkende stelsel wat kwaliteit dienste lewer eerder as om die Nasionale Gesondheids- versekeringsfonds in te stel.

Vir hom behoort dit gepaard te gaan met die hervorming van die private stelsel, om basiese sorg in die private sektor bekostigbaar te maak vir almal wat werk.

Dit kan bereik word deur staatsubsidies, werkgewerbydraes en nuwe regulasies vir reeds bestaande mediese fondse.

“Nasionale gesondheidsversekering wat deur die staat bestuur word, sal uitkomste hê soortgelyk aan die huidige openbare stelsel en lei tot verminderde toegang tot kwaliteitsorg vir almal in Suid-Afrika, terwyl dit alle openbare fondse sal absorbeer wat vir ander doelwitte beskikbaar behoort te wees.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui