Swaarkry ter wille van sondeloos

Jesus het dit nie maklik gehad op aarde nie. Hy het erg gely. Hy is uitgestoot en verwerp. Hy is valslik beskuldig. Hy is gespoeg en geslaan met swepe dat die bloed loop. Op die ou einde is spykers deur Sy hande en voete gekap en Hy is aan ’n kruis gehang. 

Jesus is dood gemartel.  

Dit alles omdat Hy opgestaan het vir die waarheid. Hy kon eenvoudig nie konformeer met die wêreld se dinge nie, al sou dit Sy lewe gespaar het. Jesus moes sterf vir die waarheid. Jesus moes ly omdat Hy God se wil wou doen. 

Baie van ons kom in seisoene waar dit nie maklik gaan nie. Ja, daar kom tye wanneer ons opstaan vir die waarheid en dan teenstand kry. As ons opstaan vir die verdrukte, storm die magtiges op ons af. Reg en geregtigheid sukkel om te wen.  

Dis sulke tye wat ons moet weet dat daar Iemand voor ons op aarde was, wat goed verstaan waardeur ons gaan: 1Jesus het as mens hier op aarde ook baie gely. As julle swaarkry, moet julle net soos Hy maak. Sy voorbeeld moet julle sterk maak. Iemand wat so swaarkry as mens, hou hom nie meer met die sonde op nie. 

Ons moenie net Jesus se voorbeeld volg om sterk te staan nie, ons moet ons ook voorberei en seker maak dat ons gereed is vir die aanvalle van die wêreld.  

In my weermagdae het ons ons goed voorberei vir die aanvalle van die vyand. Ons het die regte  klere en swaar bootse gedra met ’n staaldak op ons kop. Ons R5-geweer was skoon en ge-olie om seker te maak dat as die sneller getrek word, die skoot afgaan. Daar is nie tyd vir die regmaak van ’n storing nie. 

Ons Ratel het geblink. Jy kon van die enjin af eet. Die dieseltenk was vol. Die kanon het nie ’n stoffie op gehad nie en die ammunisiebakke was vol koeëls. Elkeen het presies geweet waar om wat te doen sodat ons voorbereid sou wees vir wanneer die vyand opdaag. 

Jy sien, die wêreld is eintlik ons vyand. Soos wat die wêreld Jesus se vyand was en Hy gely het tot Sy dood, só maak die wêreld met ons ook oorlog. Die wêreld probeer ons ook oorrompel. 

Dalk probeer die wêreld ons nie almal doodmaak soos hulle vir Jesus doodgemaak het nie. Die wêreld probeer eerder om ons geestelik dood te maak en om ons weg te lok van die waarheid sodat ons dan in sonde sal verval.  

Hiervoor moet ons voorberei. Hierteen moet ons ons beskerm, sodat ons nie in die strik van die wêreld trap en sonde begin doen nie. Ons kyk op na Jesus as ons voorbeeld. Ons weet Hy het gely, maar ook dat Hy nie gesondig het nie. 

Wanneer ons dan ly omdat ons nie meer wil sondig nie, verstaan die wêreld dit nie. Hoekom sal jy dan nou die lekker dinge van die lewe ’n mis gee en nog swaarkry ook? Die somme maak nie sin vir hulle nie. 

Maar vir ons wat Jesus wil volg en God se wil  hier op aarde wil uitleef, maak dit sin. Daarom moet ons onsself bewapen en gereed wees vir die aanvalle van die Bose. As ons tydens die aanvalle swaarkry, is dit fine, want ons beloning is out of this world! 

Teks
1 Petrus 4:1-6 

Om oor na te dink
Hoe swaar kry jy?
Is Jesus jou rolmodel?
Is jy gereed vir die aanvalle van die wêreld? 

Gebed
Jesus, dankie vir U voorbeeld. Heilige Gees, help my om myself te staal teen die aanvalle van die wêreld. Amen. 

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui