Stakers by Ford aanleg ignoreer hofbevel

Numsa-lede by Ford se Pretoria-aanleg bly staak ondanks ‘n arbeidshofbeslissing om terug te keer werk toe.

Lede van die National Union of Metalworkers of South Africa (Numsa) gaan voort om by die Ford Motor Company of Southern Africa (FMCSA)-aanleg in Pretoria te staak ondanks ‘n uitspraak deur die Arbeidshof om terug te keer werk toe.

Werkers het gereedskap neergesit en verlede week Donderdag by die ingang van die aanleg in Watloo begin staak.

Staking onwettig en onbeskermd
FMCSA-woordvoerder, Duduzile Nxele, het gesê ‘n tussentydse interdik is verlede week deur die Arbeidshof ten gunste van FMCSA uitgereik teen die werkersstaking by die vervaardigingsaanleg, wat dit onwettig en onbeskermd maak.

“FMCSA doen ‘n beroep op alle werknemers om terug te keer werk toe om te verseker dat Ranger-produksie in Suid-Afrika kan hervat, wat die aspirasies van ons arbeidsmag en die land as geheel ondersteun. Suid-Afrika moet ‘n bron van stabiele voertuigproduksie in die sektor wees,” het sy gesê.

“FMCSA is daartoe verbind om op ‘n deurlopende basis in goeie trou met Numsa oor die aangeleentheid te skakel. Om dit te kan doen, vereis FMCSA dat werkers terugkeer werk toe, wat die dringende en onmiddellike hervatting van produksie moontlik maak.”

Nxele het gesê Ford het ‘n langtermynverbintenis tot Suid-Afrika en het baie in sy bedrywighede en plaaslike werknemers belê. Ongelukkig het produksie-ontwrigting ‘n groot impak op Suid-Afrika se ekonomie en wêreldwye reputasie as ‘n plek om sake te doen.

“Wanneer besluite oor toekomstige beleggings geneem word, is konsekwentheid van produksie noodsaaklik vir die handhawing van mededingendheid en ‘n belangrike faktor by die bepaling van vervaardigingslokasies,” het sy gesê.

Ekonoom Dawie Roodt het gesê die grootste impak wat dit (staking) gehad het, was nie noodwendig op die produksie nie, want die uitset kan vinnig ingehaal word.

“Hierdie impak is meer op die beeld van Suid-Afrika. Hou ook in gedagte dat ek vermoed hier is ‘n bietjie van ‘n politieke invalshoek omdat Numsa die grootste vakbond in Suid-Afrika is en aan Cosatu behoort, en met die groot verlies van die ANC probeer Cosatu nou spiere wys,” het hy gesê .

“Elke dag van produksie wat verlore gaan, is die verlies ewig en sal nie verhaal word nie, maar ek dink dit is Suid-Afrika se beeld wat hier die meeste skade ly.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui