Krag herstel nadat groot onderbreking dele van Pretoria getref het

Terwyl temperature in die Sentraal Transvaal (Gauteng) Dinsdagaand laagtepunte van -3 grade Celsius bereik het, was inwoners in dele van Pretoria ure lank sonder elektrisiteit ná ‘n fout by ‘n substasie.

Een van Pretoria se grootste toevoersubstasies, die Njala Scientia Substasie, het uitgeskop en baie gebiede in Pretoria-Oos en die Moot in die koue en donker gelaat.

Pretoria Stadsraad het in sy kennisgewing aan inwoners op sosiale media gesê gebiede soos Mamelodi, Lynnwood, Koedoespoort, Highlands, Villieria en Willows is geraak.

Siobhan Muller, raadslid van wyk 82, wat saam met ander gewerk het om die onderbreking te eskaleer, het gesê krag is aanvanklik net voor 19:00 herstel, maar nog ‘n rits onderbrekings is beleef.

“Krag is vroeër na Lynnwood sub herstel, maar Brooklyn en Bailey se substasies het kort daarna uitgeskop sodat dele van Brooklyn, Nieuw Muckleneuk, Baileys Muckleneuk en Waterkloof was geraak en sonder krag gelaat,” het Muller gesê.

Lindela Mashigo, woordvoerder van Pretoria Stadsraad, het omstreeks 22:00 gesê krag is in alle gebiede herstel.

Muller het net voor 17:00 die eerste waarskuwing aan inwoners uitgestuur, waartydens temperature weer begin daal het van die effense middagwarmte in die stad.

Sy het gesê sy het byna 100 boodskappe ontvang van gefrustreerde inwoners wat die onderbreking tydens die koue weer aangemeld het.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui