(Deur Ontwaak!-medewerker in Australië)
WAT is lekker warm in die winter, maar verbasend koel in die somer? Wat is growwer as katoen, maar word gebruik om dun stowwe te maak? Wat dien as ’n skiër se beskerming en ’n ontwerper se droommateriaal? Wat kan met byna ’n derde van sy lengte uitgerek word en sal daarna na sy oorspronklike lengte terugkeer?
Die antwoord op al hierdie vrae is wol—duursame wol wat vir baie dinge gebruik kan word! Ja, die verstommende vag van die mak skaap produseer een van die stowwe met die meeste gebruike wat aan die mens beskikbaar is.
Eeue oue gebruik
Met die ou ontdekkingsreisigers se aankoms in Suid-Amerika het hulle gevind dat baie van die land se mense, soos die Peruane, pragtige klere van alpakkawol dra. Selfs verder terug, in eertydse Bybeltye, is groot kuddes skape aangehou en is klere van gekleurde en verwerkte wol gemaak.—Exodus 26:l, NAV; Levitikus 13:47.
In die hedendaagse geskiedenis is die stewige Spaanse merinoskaap nie net bekend vir sy oorvloedige kwaliteitswolproduksie nie, maar ook vir sy taaiheid en sy vermoë om in strawwe klimate te lewe. Die taai merino is ideaal vir die droë klimaat van die eilandkontinent Australië. Teen die einde van die 18de eeu het ontdekkers van die nuwe kolonie na meer as net kos gesoek. Hulle het ’n belowende uitvoerartikel nodig gehad waarop hulle ’n ekonomie kon bou.
Hulle het wol gekies omdat dit letterlik op die lewende dier groei. Skape kan lank feitlik sonder enige toesig ronddwaal, en baie min werk is nodig om wol in groot maat te produseer. Dit kan maklik verpak word, en dit verouder nie terwyl dit bewaar word nie. Wol kon die lang reis van ses maande met ’n seilskip na Engeland deurstaan, omdat dit mufbestand is. Nog ’n groot voordeel was dat wol nie maklik brand nie.
“Ry op die skaap se rug”
En so het Australië, ’n eeu en ’n half ná die eerste merino’s in 1797 daar aangekom het, op ekonomiese gebied grootliks deur die uitvoer van wol ’n bestaan gemaak. Maar ná die Eerste Wêreldoorlog was die uitdrukking dat Australië finansieel ‘op die skaap se rug ry’ nie meer so toepaslik nie omdat die sekondêre nywerhede geleidelik ontwikkel het en sintetiese stowwe, pleks van wol, al hoe meer gebruik is. Dit wil sê, tot die laaste helfte van die tagtigerjare, toe die Australiese wolhandel ’n ongeëwenaarde oplewing begin beleef het. Australië het destyds omtrent 166 miljoen skape gehad—meer as 10 skape vir elke mens in die land, en die jaarlikse wolproduksie was oor die 950 000 ton.
Maar teen 1990 het die oplewing skerp afgeneem. Die aanvraag na wol het drasties afgeneem en Australië se 70 000 skaapboere met te veel skape gelaat—omtrent 20 000 000 te veel, volgens die Sunday Correspondent van Londen, Engeland.
Waarom so wonderlik?
Die baie gebruike en nut van wol laat ’n mens beslis verwonderd staan, soos ’n kort oorsig van die eienskappe van wol toon. Wol groei op ’n soortgelyke wyse as mensehare, en baie skaaprasse het lang hare wat saam met hulle wol groei. Hierdie lang hare is uit die merinobloedlyn uitgeteel sodat net die wollerige onderlaag waarna daar so ’n groot aanvraag is, oorbly. Hoewel wol growwer as katoen of linne is, kan dun stowwe daarvan gemaak word omdat dit ’n lae digtheid het. Die baie gebruike van wol word ook vermeerder deur wol se vatbaarheid vir kleurstowwe. As jy ’n jong vrou sien wat ’n helderrooi serp dra wat liggies in die windjie waai, kan dit suiwer wol wees.
Maar het jy al ooit probeer om ’n draadjie wol met jou vingers te breek? Dit is sterk, nè? Ja, ’n enkele vesel wol het ’n breekgrens van 15 tot 30 gram—jy het dus ’n skêr nodig om wolstowwe te sny. Wolvesels is ook gekartel, of gegolf, wat dit baie elasties maak, en wanneer dit dus met tot 30 persent van sy lengte uitgerek word, sal dit weer na sy normale lengte terugkeer. Dit is hierdie eienskap wat wol kreukeltraag maak wanneer dit droog is.
Boonop gee die lug tussen die unieke vesels aan wol ’n isoleervermoë, wat dit warm in die winter maar koel in die somer maak. Wol se oppervlak is ook watervas en as jy ’n klam wolonderbaadjie dra, sal dit jou nie, soos ander stowwe, laat koud kry deur te vinnig droog te word nie. Skape dra dit op stuk van sake die hele tyd in enige soort weer en hulle sukkel nie met verkoues nie.
Jy is dalk nie daarvan bewus dat vilt—wat honderde gebruike het, van matte tot tennisballe—wol is wat onder hitte en druk saamgepers word nie. En kamstof, wat gebruik word om mans- en damespakke en party sagte, fyn rokke te maak, word van wol gemaak wat op ’n spesifieke manier geweef word.
Van die skaap na jou
In die groter wolproduserende lande is die skeerskuur ’n integrerende deel van die plattelandse landskap. Skape word gewoonlik een maal per jaar geskeer, maar in party warmer klimate kan skape twee maal per jaar geskeer word.
Skaapskeerders is ’n geharde groep mense met gespierde arms en sterk rûe. Die skeerder gebruik ’n elektriese skêr en probeer om die vag in een stuk af te skeer. ’n Geoefende skeerder kan ongeveer 200 skape per dag skeer. Hy skeer eers die penswol af deur aan die binnekant van ’n been te begin en dan oor die rug, nek en blad en langs die ander sy af te beweeg. Die blad en die sye van die skaap lewer die beste wol.
Wanneer die pasgeskeerde skape uit die skuur losgelaat word, is dit ’n genot om te sien hoe hulle opgewek rondspring as gevolg van hulle nuutgevonde vryheid nadat hulle hulle swaar woljasse verloor het.
Daarna word die vag gesorteer en geklas. Sorteerders staan by tafels wat tot aan hulle middel kom en beoordeel die wol volgens helderheid, karteling, suiwerheid, fynheid, sagtheid en lengte. ’n Bedrewe wolklasser kan deur ongeveer 4 500 kilogram vag per week werk. Daarna word die vag gewas en gedroog en word die vet, of lanolien, verwyder. Wol wat van ’n lewende skaap geskeer word, is die beste.
Pas dit goed op en dit hou langer
Jy hoef seker nie daaraan herinner te word dat motte lief is vir wol nie. Hulle lê hulle eiers op so ’n manier dat die ruspes wat uitbroei genoeg kos het. Hulle gee voorkeur aan wol wat gegeur is met sweet of stowwe wat daarop gemors is. Moet dus nooit gevlekte of vuil wolklere wegbêre nie. As jy motbestande klere kan koop, sal dit as ekstra beskerming dien. Bêre wolklere in lugdigte houers as jy dit nie gereeld dra nie. En selfs wolklere wat jy baie dra, moet gereeld geborsel en uitgeskud word, want wol is baie lief vir lug.
Die moderne tegnologie het baie gehelp, want vandag word baie van die wol wat verkoop word, behandel om insek- en mufbestand te wees, en dit is dikwels vooraf gekrimp en brandtraag. Jy moet nogtans versigtig wees wanneer jy wasgoed was. Baie moderne wasmasjiene het ’n wolsiklus. Maar druk die kledingstuk liggies skoon as jy met die hand was, en werk met jou hande onder die water, wat warm of koel moet wees. Wolwasmiddels is natuurlik beter as seep, maar as hierdie middels nie beskikbaar is nie, moet jy jou seeppoeier oplos voordat jy begin was. Moenie sintetiese wasmiddels gebruik nie omdat dit gewoonlik alkalies is en die kledingstuk kan beskadig. Gebruik dieselfde temperatuur wanneer jy die klere uitspoel, en maak seker dat jy al die seep verwyder deur baie vars water te gebruik. Rol die kledingstuk in ’n handdoek toe en druk die vog uit.
Een van die voordele van wolklere is dat dit selde gestryk hoef te word. Maar as jy ’n ekstra gladde afwerking wil hê, moet jy ’n stoomyster of ’n yster en ’n klam lap gebruik, maar slegs ná die kledingstuk heeltemal droog is. Ligte, vinnige hale met die yster voorkom die glans wat niemand wil hê nie, en dit is beter om die yster op te lig en te laat sak as wat jy dit oor die kledingstuk stoot.
Wol is ’n wonder
Jy moet beslis saamstem dat wol ’n fassinerende stof is. Van jasse tot tennisballe voorsien dit ons van duursame produkte. Die vroeë Australiese koloniste het beslis ’n wyse keuse gemaak toe hulle skape gekies het. Ons is baie dankbaar teenoor hulle, aangesien ons ’n eindelose verskeidenheid dinge geniet wat van hierdie wonderproduk, wol, gemaak word.