‘n Gryspapegaai, beter bekend as ‘n African Grey is onlangs deur middel van ‘n hofbevel deur die dierebeskermingsvereniging (DBV) by ‘n parlementslid se huis gered.
Volgens die hoofinspekteur van Die Kaap die Goeiehoop-Dierebeskermingsvereniging, Jaco Pieterse is die papegaai weens verwaarlosing verwyder. Volgens Pieterse is die DBV in April na die huis ontbied nadat hulle klagtes oor die toestand van die honde van die parlementslid ontvang het.
Hy sê die huiseienaar wou aanvanklik nie die inspekteur in sy huis toelaat nie, en het gevra hy moet later terugkom. “Toe die inspekteur terugkeer toe lyk alles redelik in orde, wat daarop dui dat die man die diere se hokke vinnig skoongemaak het.”
Die inspekteur het egter ‘n papegaai met erge vere verlies opgemerk, waarna die huiseienaar ‘n waarskuwing ontvang het. Die voël moes na ‘n veearts geneem word. Volgens Pieterse het die parlementslid egter daarna geweier om die DBV by sy huis in te laat vir opvolgbesoeke.
Pieterse wou nog nie die LP se naam bekend maak nie.