Twee ontvoeringslagoffers is gered in die jongste operasie wat daarop gemik is om ontvoeringsindikate in Benoni hok te slaan.
Tydens die operasie is vier vermeende ontvoerders in hegtenis geneem; een is in ‘n skietgeveg gewond en hospitaal toe geneem, en ‘n sesde is doodgeskiet.
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens se elite Spesiale Taakmag (STF)-eenheid het die slagoffers Maandagmiddag by ‘n informele nedersetting in Crystal Park, Benoni, gered, volgens polisiewoordvoerder, brigadier Athlenda Mathe.
’n 64-jarige man en ’n 34-jarige man is albei ontvoer terwyl hulle Sondag langs Putfonteinweg in Crystal Park gery het. Die ontvoerders het dadelik lospryseise aan hul families begin stel.
Sy het bygevoeg dat die span Maandagmiddag “op die ontvoerders toegeslaan het”, en ’n skietgeveg het gevolg.
“Een ontvoerder is noodlottog gewond, een is gewond en hospitaal toe geneem, en die ander vier is in hegtenis geneem en in polisie-aanhouding,” het sy gesê.
“Die SAPD verseker gemeenskappe wat dalk slagoffers van hierdie soort misdaad is dat hy oor die nodige kundigheid en vermoëns beskik om sindikate wat by ontvoerings betrokke is en waar lospryseise gemaak word, te onderskep.”
News24 het verlede week berig dat twee ontvoerde Portugese sakemanne gered is, en ses vermeende ontvoerders is in Gauteng in hegtenis geneem.
Die eerste is verlede Maandag gered, en die tweede Donderdag. Albei is in Soweto gevind.
In die eerste helfte van 2024 is 54 vermeende ontvoerders in hegtenis geneem wat in Sentraal-Transvaal, Wes-Transvaal, Oos-Transvaal en die Vrystaat bedrywig was.
Tussen Julie en September verlede jaar het 4 300 ontvoerings plaasgevind, waarvan 2 194 in Sentraal-Transvaal gebeur het.
Lospryse is in 136 gevalle geëis, en vier is met afpersing verbind.
Volgens die polisie is die afgelope twee jaar meer as 200 vermeende ontvoerders in hegtenis geneem.
Sedert die begin van die jaar is meer as R390 miljoen in ‘n rits lospryse geëis in byna 80 ondersoeke van die SAPD se Anti-Ontvoeringseenheid.