Mediaverklaring – Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (Valke) 2024/07/09
VRYSTAAT – Karabelo Clement Matlalesa (33) het Maandag, 08 Julie 2024 in die Kroonstad-landdroshof verskyn waar hy skuldig gepleit en gevonnis is op aanklag van bedrog.
Sy skuldigbevinding spruit uit ‘n voorval wat gedurende November 2018 plaasgevind het, waar die slagoffer deur ‘n telefoonoproep deur die verdagtes genader is. Die verdagte het die slagoffer gebel en homself as ‘n amptenaar van Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit voorgestel. Die verdagte het aan die slagoffer gesê dat hy deur sy kollega, wat sy toesighouer is, gestuur is om reëlings te tref vir die kansellasie van sy munisipale skuld ter waarde van R11 000. Die slagoffer het verder WhatsApp-boodskappe ontvang met ‘n bewys van die klaring van sy munisipale skuld tot die bedrag van meer as R25 000 wat daartoe gelei het dat die slagoffer se rekening verminder het na R1 646. Hy het toe nog ‘n boodskap met ‘n bankrekeningnommer ontvang waar hy opdrag gekry het om ‘n bedrag van R11 000 te betaal vir sy munisipale skuld wat geskrap is.
Op 21 November 2018 het die slagoffer die saak by die Valke aangemeld en die saak is aan die ondersoekspan vir ernstige korrupsie in Bloemfontein toegewys. Op 04 Desember 2018 is ‘n operasie deur die polisie uitgevoer en reëlings is met die verdagtes getref om die geld oor te dra. Op 05 Desember 2018 is die verdagtes in hegtenis geneem.
Die hof het Matlalesa tot drie jaar tronkstraf gevonnis wat geheel en al vir drie jaar opgeskort is op voorwaarde dat hy nie aan dieselfde oortreding skuldig bevind word gedurende die tydperk van skorsing nie. Intussen is die saak teen sy medebeskuldigde tot 02 Oktober 2024 uitgestel.