Ian Plaatjies, bedryfshoof van die SAUK, en Merlin Naicker, uitvoerende hoof van videovermaak, het die direksie mislei.
Twee SAUK-bestuurders is afgedank nadat ‘n dissiplinêre proses hulle daaraan skuldig bevind het dat hulle ‘n advertensiewinsdelingsooreenkoms met die tegnologiemaatskappy Discovery Digital probeer versteek het.
Die ooreenkoms met Discovery Digital is gemaak met betrekking tot die openbare uitsaaier se stroomplatform, TelkomONE, wat nou SABC Plus genoem word.
Mmoni Seapolelo, SAUK-woordvoerder, het aan City Press bevestig dat Ian Plaatjies, bedryfshoof van die groep en Merlin Naicker, uitvoerende hoof van videovermaak, deur die direksie afgedank is.
Plaatjies en Naicker is in Februarie geskors ná ’n regsmening van die regsfirma Werksmans.
Reginald Nxumalo, uitvoerende hoof van verkope, het bedank voordat hy vir sy rol in die transaksie geskors kon word.
Uitvoerende komitee mislei
Werkmans het gesê die drie het belangrike inligting van die uitvoerende komitee weggesteek voordat die ooreenkoms in 2022 onderteken is. Hulle het glo versuim om bekend te maak dat Discovery Digital 7,5% van die advertensie-inkomste betaal sal word bo en behalwe die R35 miljoen jaarlikse fooi om die SABC Plus platform te bestuur.
Daar is bevind dat die uitvoerende beamptes die komitee mislei het toe hulle gesê het die SAUK sal 100% van die advertensie-inkomste kry.
Die winsdeelooreenkoms het eers aan die lig gekom toe die SAUK se hoof van die regsafdeling Ntuthuzelo Vanara ‘n klousule in die kontrak bevraagteken het. Teen daardie tyd was die ooreenkoms egter reeds onderteken.
Die Werkmans-verslag kom nadat ‘n interne oudit deur die SAUK bevind het dat die drie uitvoerende beamptes dele van die ooreenkoms versteek het. Daar is ook bevind die drie het nie in die beste finansiële belange van die openbare uitsaaier opgetree nie.
SAUK se kontantvloei-uitdagings
Die ooreenkoms met Discovery Digital is onderteken aangesien die openbare uitsaaier sukkel om as ‘n lewensvatbare besigheid te bestaan.
In Augustus 2023 is dit aan die lig gebring dat die SAUK in byna 10 jaar versuim het om ‘n wins aan te teken. Yolande van Biljon, finansiële hoof van die SAUK, het in Junie 2023 gewaarsku dat die uitsaaier nie tred kan hou met bedryfskoste nie en die risiko loop om in sakeredding te gaan.
Die memo het ook ‘n verlies van R1 miljard vir die 2022/23-boekjaar voorspel.