Klerksdorp-winkelsentrum ontruim, voorlopig gesluit

City Mall in Klerksdorp, Wes-Transvaal, is Vrydag ontruim en sal tot verdere kennisgewing gesluit wees weens kommer oor die strukturele integriteit van die sentrum.

Die bestuur van City Mall het gesê verteenwoordigers van die stadsraad se gebou-inspeksiespan het vroeër Vrydag saam met ingenieurs, polisiebeamptes en ander relevante owerhede ʼn assessering by die winkelsentrum gedoen.

“Tydens hierdie inspeksie het hulle krake in die kelderparkeerarea geïdentifiseer, wat blykbaar voorheen deur die voormalige verhuurder herstel is. Op hierdie tydstip vereis die owerhede dat ons ʼn ingenieursverslag verskaf om die strukturele integriteit en veiligheid van die perseel te verifieer.”

City Mall sal gesluit wees totdat die betrokke verslag ingedien en hersien is.

“Wees asseblief verseker dat ons dringend besig is om gekwalifiseerde ingenieurs aan te stel om die nodige assessering te doen. Ons reik ook uit na die voormalige verhuurder om enige bestaande verslae te bekom wat verband hou met die herstelwerk en die geïdentifiseerde krake.”

Die munisipaliteit het gesê daar is besluit om onmiddellik die winkelsentrum te ontruim en tot verdere kennisgewing te sluit aangesien daar nie aan die Wet op Nasionale Bouregulasies en Boustandaarde voldoen word nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui