Twee voormalige Absa-bankwerknemers in die Oos-Kaap is tot 15 jaar tronkstraf gevonnis vir bedrog en geldwassery van altesaam meer as R1 miljoen.
Florika Shenay Owusu (31) en Abongile Tyusha (30) is deur die Gqeberha Gespesialiseerde Handelsmisdaadhof gevonnis vir misdade wat gepleeg is terwyl hulle tussen November 2019 en Junie 2021 werknemers by Absa was.
Die twee is tot vyf jaar gevonnis vir bedrog en diefstal, en 10 jaar vir geldwassery, met vier jaar wat vir vyf jaar opgeskort is op voorwaarde dat hulle nie die Wet op Georganiseerde Misdaad in daardie tydperk oortree nie.
Provinsiale woordvoerder van die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoeke (Hawks), ao Ndiphiwe Mhlakuvana, het gesê Owusu het as konsultant by ‘n tak in Patensie gewerk, terwyl Tyusha na die Dutywa-tak oorgeplaas is.
“Hulle pligte was om bankkaarte aan kliënte uit te reik asook om hulle met banknavrae te help,” het Mhlakuvana gesê.
“Die beskuldigde het sonder hul medewete bankrekeninge op bedrieglike wyse oopgemaak met name van oorlede individue en buitelandse burgers. Hulle het debietkaarte vir hierdie rekeninge uitgereik om bedrieglike oorplasings en onttrekkings te fasiliteer.
“Hulle het 18 dormante rekeninge heraktiveer, hoofsaaklik wat aan buitelandse paspoorthouers behoort, insluitend afgestorwe Suid-Afrikaanse burgers. Hulle het die kontant onttrek wat bedrieglik oorgeplaas is in rekeninge wat hulle geopen het.”
Mhlakuvana het gesê dat Absa-werknemers op tydstip nie toegelaat is om enige inligting bekend te maak sonder die kliënt se toestemming nie.
“Die transaksies is in dele gedoen en Absa het gevolglik ’n verlies van meer as R1 miljoen gely.”
Die twee is in hegtenis geneem nadat ‘n interne oudit by die bank uitgevoer is.