Geskryf deur Andre Smit – Volkskrag Nuus Redakteur
Uit die redakteur se pen
Waarom het Volkskrag Nuus ontstaan?
Volkskrag Nuus het in geloof besluit om die koerant tot stand te bring. Die koerant is nie met eie gewin as doelwit begin nie. Die koerant is begin uit liefde vir ons Volk en Dierbare land Suid-Afrika. Volkskrag Nuus is ten doel om die waarheid aan ons lesers te openbaar aangaande daaglikse gebeure.
Volkskrag Nuus groei
Volkskrag Nuus het die eerste koerantberig 9 Februarie 2024 geplaas en in 5 maande het die koerant van 0 lesers tot ’n fenomenale 32 000 gereelde lesers gegroei. Dit is ’n gemiddelde groei van 6500 lesers per maand.
Ons het nagenoeg 4000 lesers vanuit die Buiteland.
Volkskrag Nuus korps
Volkskrag Nuus het ’n paar weke gelede met dankbaarheid ’n nuwe VRYWILLIGE joernalis, Ronelle Snyders deel van die span gemaak. Sy doen tans haar werk 100% gratis omdat Volkskrag Nuus nie die fondse het om haar ’n salaris te betaal nie.
Ek is dankbaar vir haar ongelooflike harde werk aangesien ek soms nie by die koerant kan uitkom nie. Ek moet eksterne werk doen om die pot aan die kook te hou aangesien die koerant nie ’n noemenswaardige inkomste genereer nie.
Volkskrag Nuus inkomste
Ons is 100% afhanklik van vrywillige skenkings om die koerant aan die gang te hou. Op die huidige stadium ontvang die koerant R500.00 per maand van 1 leser wat met GROOT dankbaarheid ontvang word. Dit wil sê dat Volkskrag Nuus ’n totale begroting van R500.00 per maand het en dat die res van die begroting uit die sak van die redakteur kom.
Volkskrag Nuus gebreke
Persoonlik is ek nie een van die beste taalkundiges onder die son nie en probeer my bes om die koerant so taalkundig suiwer moontlik te hou. Volkskrag Nuus kan nie die dienste van taalkundiges en ander belangrike dienste bekostig nie. Ek wil persoonlik om verskoning vra vir taalfoute wat insluip.
Volkskrag se mikpunt en drome
Eerstens is dit Volkskrag en Volkskrag Nuus se droom om die koerant te groei tot een van die grootste media huise in Suid-Afrika.
Ons droom om as dit die HERE se wil is binnekort ons te wend tot veel groter. Die droom is om ’n opregte en beginselvaste Televisie en Radio diens vir u as ondersteuner daar te stel. Ons wil bitter graag ’n diens daarstel van wêreldgehalte wat ons as Afrikaanssprekendes kan verteenwoordig oor die luggolwe.
Om so ’n droom te verwesenlik gaan ’n astronomiese bedrag kos en gaan slegs en alleen met borge en skenkings gedoen kan word! Volkskrag en Volkskrag Nuus het nie die nodige middele om dit tot stand te bring nie.
Wat vra ons van julle as ondersteuners?
Eerstens vra ons vir jul gebede. Sonder GOD sou ons as koerant nie gewees het waar ons is nie.
Tweedens wil ons vra: As dit binne julle vermoë is om finansieel te bydra tot die koerant, al is dit R10.00 om die onkoste te help dra sal ons dit ongelooflik wardeer.
Ter afsluiting
Baie dankie vir die lojale en getroue lesers wat dit vir ons ’n taak van opgewondenheid maak om die koerant elke dag uit te bring. Dit gaan nie altyd maklik om dit te doen nie, maar ons sal aanhou so lank as wat die HERE ons beskik om dit te doen.
Ek is trots om deel van Volkskrag Nuus en sy span te wees.
Die Here seën hierdie blad.