PRETORIA – In die afgelope ses maande is 12 sakemanne en ses studente wat vir lospryse ontvoer is, gered deur ‘n multidissiplinêre span onder leiding van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se teenontvoeringstaakspan. ’n 49-jarige Portugese sakeman is die jongste slagoffer wat deur die span gered is.
Die SAPD se teenontvoeringstaakspan, insluitend ander wetstoepassingsagentskappe en privaat sekuriteit, het die hele dag gewerk om die sakeman veilig en ongedeerd te vind. Die man is op 24 Junie 2024 van sy besigheidsperseel in Florida ontvoer.
Op Maandagaand, 1 Julie 2024, het die span die slagoffer opgespoor by ‘n huis in Snake Park, Soweto waar hy in aanhouding was.
Dieselfde aand het lede ook een van sy ontvoerders in Turfontein, Johannesburg, gearresteer.
Die 39-jarige verdagte behoort glo aan ‘n sindikaat wat verantwoordelik is vir minstens vier ander ontvoerings waar sakemanne die teiken in die Johannesburg-distrik was.
Die span is tans besig om verdagtes op te spoor wat saam met die man gewerk het.
In gevalle waar die sakemanne en studente gered is, is geen losprysbetaling betaal nie as ‘n direkte gevolg van die kundigheid en vermoëns van SAPD-speurders, die misdaadintelligensie-eenheid en samewerking met private sekuriteit.
Van Januarie 2024 tot op datum is 49 ontvoerders wat losprysbetaling van families van slagoffers geëis het, in Gauteng, Noordwes en die Vrystaat in hegtenis geneem.
Daar is beslag gelê op 21 voertuie wat in die pleging van hierdie misdade gebruik is en daar is ook op 8 vuurwapens beslag gelê.
Die SAPD is vol vertroue dat hy saam met alle belanghebbendes en gemeenskapswenke sal voortgaan om meer sindikate te verwyder wat glo agter ‘n vlaag ontvoerings vir lospryse regoor die land sit.