VRYSTAAT – Vennootskappolisiëring lewer steeds positiewe resultate deur die multidissiplinêre benadering van die “Operasie Shanela”-inisiatief.
Deur streng stop-en-soektog, padblokkades op geïdentifiseerde plekke en verhoogde sigbaarheidspatrollies tesame met speuropsporings- en opsporingsoperasies, is 50 verdagtes gearresteer vir die besit van dwelms; nege is gearresteer vir verkragting, vier vir moord en 14 vir poging tot moord. Vir die besit van gevaarlike wapens is 28 verdagtes in hegtenis geneem.
Een-en-twintig verdagtes is vir eiendomsmisdade gearresteer; 45 is gearresteer vir opsetlike saakbeskadiging; en 107 is gearresteer vir aanranding met die doel om ernstig te beseer.
In Virginia het lede van Misadaadintelligensie op 26 Junie 2024 inligting verskaf oor twee vermeende voertuie wat rondom petrolmotorhawens gesien is. Drie verdagtes, insluitend ‘n vrou, is in hegtenis geneem nadat ‘n onwettige vuurwapen gevind is in die voertuig waarin hulle gery het. Die tweede voertuig, ‘n VW Golf, is opgespoor en saam met drie insittendes gevind, en ‘n vuurwapen is ook gevind en op beslag gelê. In ‘n ander voorval is ‘n voertuig opgespoor en gestop. Al drie mans wat in die voertuig gevind is, is ook in hegtenis geneem nadat ‘n 9 mm-vuurwapen gevind is en beslag daarop gelê is.
In Rouxville is een buitelander in hegtenis geneem nadat sy bakkie by die padblokkade voorgekeer is en terwyl lede gesoek het, het hulle bokse onwettige sigarette ter waarde van na raming R12 miljoen gevind.
In Springfontein is twee mans, onderskeidelik 23 en 25 jaar oud, in hegtenis geneem nadat hulle deur ‘n snelwegpatrollie op die N1 voorgekeer is en dagga ter waarde van na raming R1,7 miljoen agter op hul bakkie gevind is.
In Batho is ‘n onwettige buitelander in hegtenis geneem nadat hy met ‘n ongelisensieerde vuurwapen gevind is. Dit is nadat die polisie inligting ontvang het dat die verdagte moontlik deel was van ‘n groep wat ‘n snoepie beroof het.
Speuropsporingsoperasies as deel van die operasie “Shanela” het ook voortgegaan en meer as 215 verdagtes wat nie regsdokumente het om in Suid-Afrika te wees nie, is na Binnelandse Sake geneem vir verdere hantering. Drie-en-dertig mense is gearresteer vir bestuur onder die invloed van drank, terwyl 253 bestuurders beboet is vir oortreding van die Verkeerswet.
Bedrywighede gaan regdeur die provinsie voort en gemeenskapslede word versoek om voort te gaan om inligting te verskaf oor misdade wat plaasvind en om met die polisie saam te werk om moontlike verdagtes te identifiseer.