Verdere ondersoek het aan die lig gebring dat die verdagte voorheen vir kabeldiefstal gearresteer is.
‘n Verdagte in ‘n kabeldiefstalpoging is deur ‘n pendelaar op heterdaad betrap en is op 29 Junie deur ‘n CSI-sekuriteitsbeampte in die Aries Doggy Park in Waterkloofrif aangekeer.
Volgens CSI-woordvoerder Mark Grobbelaar het ‘n verslag van die gemeenskap sekuriteitsbeamptes gewaarsku oor verdagte aktiwiteite wat ‘n kabeldiefstalaanval behels het.
“Met aankoms op die toneel is ’n individu waargeneem wat besig was om kabels te sny en toe hy die sekuriteitsbeampte se teenwoordigheid opgemerk het, het die verdagte probeer vlug, maar is agternagesit en binne die parkperseel aangekeer.”
Hy het gesê ‘n daaropvolgende soektog na die verdagte het messe, bykomende koperkabels en gereedskap wat algemeen vir huisbraak gebruik word, opgelewer.
“Die sekuriteitsbeampte het die beheersentrum dadelik in kennis gestel en polisiebystand versoek. SAPD-beamptes het ongeveer 15 minute later opgedaag en die verdagte is in hegtenis geneem.”
Grobbelaar het gesê verdere ondersoek by die stasie het aan die lig gebring dat die verdagte reeds in hegtenis geneem was op ‘n klag wat verband hou met kabeldiefstal. Hy het die gemeenskap versoek om waaksaam te bly en enige verdagte aktiwiteite spoedig aan te meld.