Die saak teen ‘n ma van Leeuhof en haar drie seuns sloer glo omdat daar blykbaar nie meer geld is om hulle regskoste te betaal nie.
Die vonnisoplegging van die Metz-broers van Leeuhof, Vereeniging, en hulle ma, Lindi Falch (44), is verlede week in die rondgaande hooggeregshof in Benoni uitgestel nadat hulle geld blykbaar opgeraak het.
Falch en haar seuns: Raymond (21), Shane (24) en Simon Anton ‘Babatjie’ Metz (18) sou gevonnis word vir hulle aandeel in die moord op Benjamin Lotz (52), nadat hulle in April aan die moord skuldig bevind is.
Lotz is dood nadat hy in ‘n stryery met die broers betrokke was. Falch het glo met ’n panga teen die oorledene se hek geslaan en haar seuns van agter die draad af aangehits om Lotz in sy erf te slaan.
Raymond Metz met sy donkerbril wat hy in die hof dra om epileptiese aanvalle te voorkom. Foto: Christiaan Cloete.
Dís hoekom saak sloer
‘n Probleem met befondsing het die saak nou tot stilstand geruk.
Charles de Beer, die broers en hulle ma se regsverteenwoordiger, het verlede Maandag toe daar ter strafversagting getuig sou word, Regter Carla van Veenendal meegdeel dat Jannie van Staden, Falch se verloofde, wat tot dusver die beskuldigdes se regskostes bygebring het, nie meer kan bekostig om vir die hofsaak te betaal nie.
Die saak is in April uitgestel vir die veroordeeldes om ‘n privaat maatskaplike werker, en indien nodig ‘n sielkundige, aan te stel om hulle te evalueer en ‘n forensiese verslag saam te stel.
Die verslag word deur die hof gebruik in besluitneming oor ‘n gepaste vonnis.
De Beer het die hof meegedeel dat Falch se saamleefmaat, wat sedert die aanvang van die saak tot in met nou die enigste broodwinner in die familie is, nie meer kan voortgaan om die regskostes te betaal nie en dat die veroordeldes dus nog nie ‘n maatskaplike werker aangestel het nie.
Regsverteenwoordiger Charles de Beer (links) saam met een van die Metz-broers. Foto: Christiaan Cloete.
Dit moet eers gedoen word voor die vonnisprosedures kan voortgaan.
“Hy (Jannie van Staden) het sy eie besigheid en het tot nou toe al die regskostes en finansiële uitgawes namens die familie gedra. Ongelukkig is sy onderneming op die afdraandepad en kan hy nie ‘n maatskaplike werker bekostig nie. Hy kon ook nie daarin slaag om die geld daarvoor in te vorder nie,” het De Beer die hof meegedeel.
“Ons het tot die laaste oomblik gewag om te sien wat ons kan doen om die hof met voldoende inligting [vir die vonnisprosedure] te voorsien. Ongeveer twee tot drie weke gelede het ons uiteindelik die besluit geneem dat die situasie van so ‘n aard is dat die familie nie in staat sal wees om geld by te dra om privaat persone aan te stel nie,” het De Beer verduidelik.
Staat word genader, maar wek kommer
Volgens De Beer het hulle die staat genader en die staat het ‘n maatskaplike werkers aan elkeen van die veroordeeldes toegeken.
“Ons voorsien in hierdie stadium ‘n klein probleem omdat die maatskaplike werkers wat die staat toegeken het, almal Engelssprekend is,” het De Beer aan Van Veenendal gesê en genoem dat die Metz-broers en hulle ma Afrikaanssprekend is.
“Weens die aard van die saak waarmee ons hier te doen het, insluitend die persoonlike omstandighede van elkeen van die aangeklaagdes mag dit dalk die moeite werd wees om te sien tot watter mate dié mense vertroud is met Afrikaans,” het De Beer gesê.
Die saak is uitgestel tot 2 en 3 September vir bewyse en argumente ter strafversagting. Vonnisoplegging sal na verwagting op 6 September wees.