Fotos: Louis Liebenberg se likwidateurs vra: Verklaar hom bankrot

ʼn Dringende aansoek is by die Hooggeregshof in Pretoria ingedien om die diamantsmous Louis Liebenberg se persoonlike boedel bankrot te laat verklaar en hom te laat sekwestreer.

Die aansoek is die afgelope week ingedien deur die likwidateurs wat sy maatskappy Tariomix onder likwidasie laat plaas het deur die hof.

Indien daar  ʼn voorlopige sekwestrasiebevel toegestaan word deur ʼn hof neem ʼn kurator beheer van die insolvente persoon se boedel. So persoon mag geen verdere verpligtinge of skulde aangaan of met sy boedelbates handel nie. So persoon mag ook nie krediet uitneem nie en ook nie meer bates koop of toegelaat word om ‘n besigheid te bedryf nie.

In die hofstukke word gevra dat Liebenberg voor 2 Julie moet aandui of hy die aansoek gaan teenstaan en dat die aansoek op 16 Julie aangehoor word of so gou as moontlik daarna.

Volgens die likwidateurs van Liebenberg se maatskappy is die doel van die aansoek om te toon dat hy insolvent is en nie in staat is om sy krediteure te betaal nie.

In die hofstukke van meer as 400 bladsye is foto’s en videomateriaal waar dit voorkom of Liebenberg by ʼn casino dobbel. Daar word beweer dat hy miljoene rand van sy sogenaamde JV-vennote by casino’s weggedobbel het.

Die likwidateurs sê in hulle aansoek Liebenberg het duisende mense mislei om in sy skema te belê. Hulle is glo in die skema ingelok met beloftes van buitensporige winste en dat die geld gebruik sou word om diamante te koop en teen ʼn wins te verkoop.

Wanneer die beleggers navraag doen oor hulle beleggings word daar volgens die hofdokumente  ʼn hele boel stories aan hulle vertel waarom hulle nie  uitbetaal word nie.

Die likwidateurs sê hulle kon tot op datum nog geen enkele transaksie verifieer van diamante wat gekoop of verkoop word nie. Volgens hulle is daar geen bewys van enige diamante wat deur Tariomix gekoop of verkoop is nie. Volgens die likwidateurs se ondersoek kom dit voor of die geld deur Liebenberg en een van sy besigheidsvennote,  Ronell Kleynhans, vir hulle persoonlike voordeel aangewend is en tot nadeel van die sogenaamde JV-vennote wat geld in sy skema belê het.

Hulle voer aan dat Liebenberg ʼn geskiedenis het met ponzi-skemas. Hy het glo in 2005 tot 2006 ʼn soortgelyke skema bedryf onder die naam Wealth 4 U waar hy miljoene rand wou insamel om sy besigheid te bedryf met beloftes van groot opbrengste.

Daar het egter niks van gekom nie. Die maatskappy is volgens die likwidateurs se verklaring aan die hof, getrou aan die aard van ponzi-skemas, gelikwideer. Beleggers het glo in die omgewing van R293 miljoen verloor in die proses. Dit is volgens die likwidateurs duidelik dat Tariomix nie Liebenberg se eerste rodeo met ponzi-skemas is nie.

Hy gebruik glo vrees vir armoede gekombineer met godsdiens om beleggers te lok. Sodra mense hulle geld by hom belê het en navraag doen oor hulle geld wanneer die beloftes nie realiseer nie, word hulle begroet met persoonlik beledigings, dreigemente en godsdienspreke.

Volgens die feite wat tans beskikbaar is lyk dit volgens die likwidateurs of die hele besigheid van Tariomix ʼn onwettige skema is om beleggers te bedrieg.

Liebenberg is volgens die likwidateurs die poppemeester wat die toutjies trek. Hy gee al die instruksies hoe die besigheid bedryf moet word, sê die likwidateurs in hulle beëdigde verklaring aan die hof.

“Die enigste manier om tot op die bodem van hierdie ponzi-skema te kom en enige verdere bates te herwin, is om die respondent as die “kingpin” te laat sekwestreer. Dit is tot voordeel van die skuldeisers dat sy boedel gesekwestreer word.” lui die hofstukke.

Die waarheid is dat daar nooit enige pakkies deur Tariomix gekoop is nie, sê die likwidateurs in hulle hofstukke. Die geld wat ingesamel is, is volgens hulle wanaangewend tot Liebenberg se eie persoonlike voordeel.

Enige geld wat deur die beleggers as uitbetalings ontvang is, was volgens die hofstukke van die likwidateurs bloot geld wat deur ander belê is. Dit kan volgens hulle ten beste beskryf word met die analogie “beroof vir Peter om Paul te betaal”.

Kleynhans se bankrekenings is glo gebruik as die rekenings waarin die Tariomix-beleggers hul fondse moes inbetaal. Dit is na bewering by verskeie casinos weggedobbel en omgeruil tot die uiteindelike voordeel van Liebenberg, sê die likwidateurs in die hofstukke.

Miljoene rand het na bewering op die manier hande verwissel. Dit blyk dat die gunsteling casino Emporors Palace in Kemptonpark was.

Liebenberg is glo volgens die videomateriaal as die speler in die casino geïdentifiseer maar die fondse sou deur Kleynhans by die casino gedeponeer word vanaf haar persoonlike bankrekening wat gebruik is om fondse van beleggers in die Tariomix-skema in te vorder.

Sodra die fondse deur ʼn casino tot Liebenberg se krediet toegewys is, sou hy dan na bewering voortgaan om met hierdie fondse te dobbel in onder meer privaat dobbelkamers by die casino.

Na so ʼn gedobbel sou van die dobbelskyfies volgens die bewerings in die hofstukke óf gehou word deur Liebenberg en gebruik word as ‘n vorm van geldeenheid in van sy eie transaksies; of teruggestuur word vir ‘n kredietnota wat deur die betrokke casino in sy guns uitgereik is. Dit kon ook  uitbetaal word en die kontant dan deur hom en/of Kleynhans geneem word om tot sy voordeel te gebruik.

In hierdie verband het die ouditeur van Tariomix, dr CG Cloete, getuig hoe hy sowat R35 miljoen aan Tariomix se kleinkas toegewys het in 2021 se finansiële state wat voortspruit uit hierdie krediete wat deur die onderskeie casino’s uitgereik is.

Ongeveer R144 miljoen se beleggersfondse is volgens die hofdokument na bewering  deur dobbelary en tot voordeel van Liebenberg op die manier verkwis.

Daar word ook verwys na die R50 miljoen se diamante en juwele  wat na bewering uit Liebenberg se huurhuis in Kaapstad gesteel is. Die likwidateurs in hulle hofstukke die enigste gevolgtrekking wat gemaak kan word is dat hierdie bates uit die Tariomix-era kom. Hulle sê dit is bates wat aan die likwidateurs wat Tariomix se likwidasie hanteer oorhandig moes word.

Volgens hulle is Liebenberg aanspreeklik vir hierdie verlies van meer as R50 miljoen, aangesien hy in onregmatige besit was en beheer gehad het oor hierdie waardevolle bates van Tario-mix.

Daar word aangevoer dat Liebenberg insolvent is omdat sy totale laste ongetwyfeld  sy bates oorskry en dat die hof dringend daaroor moet beslis.

Geskryf deur Jean Oosthuizen

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui