Die polisie in Natal het inwoners in die Mariannhill-omgewing wes van Durban gewaarsku oor ‘n roofbende wat slagoffers via sosiale media lok om elektroniese toerusting te koop.
Sodra die slagoffers by die ontmoetingspunt aankom, word hulle na ‘n verlate huis in die Oakland-omgewing geneem waar hulle met ‘n vuurwapen aangehou en van hul besittings beroof word en kontant uit hul rekeninge onttrek word.
Carmen Rhynes, polisiewoordvoerder, sê een verdagte wat vermoedelik deel is van dié bende is in hegtenis geneem.
“Ondersoeke is aan die gang om die uitstaande verdagtes te vind en verdere gesteelde eiendom terug te kry. Die verdagtes sal ook met ander soortgelyke sake verbind word.”
Die polisie het ‘n beroep op slagoffers van sulke misdade gedoen om ‘n saak te open en dat bestaande klaers die Marianhill-speurders kontak.
Durban-distrikskommissaris, generaal-majoor Makhosazana Victoria Kheswa sê: “Ek is tevrede met die arrestasies tot dusver en ek verwag dat nog arrestasies binnekort sal volg.”