Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Natal het die vonnis van 18 jaar wat opgelê is aan ‘n 47-jarige vrou, wat skuld beken het op die moord op haar vierjarige dogter, verwelkom.
Die voorval het in April 2022 in die Ballito-omgewing, noord van Durban, plaasgevind.
In haar pleit in die KwaDukuza-streekhof het die vrou aan die hof gesê sy ly aan depressie en haar bedoeling was om haar eie lewe te neem, maar voel sy kan nie haar dogter agterlaat nie.
Sy het die dogtertjie in ‘n emmer water verdrink en probeer om haar eie lewe te neem deur slaaptablette te neem.
Natasha Ramkisson-Kara, NVG-streekwoordvoerder, sê: “Die vrou is tot 18 jaar gevangenisstraf gevonnis en sy is onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit. Die Nasionale Vervolgingsgesag verwelkom die afhandeling van hierdie saak. Dit is ons mandaat om geregtigheid namens die slagoffers van misdaad na te streef.”