Kobus Beyers is Wes-Transvaal se Jongboer van die Jaar

Kobus Beyers wat ‘n gemengde boerdery by Wolmaransstad bedryf, is op Agri Wes-Transvaal se Jongboerkongres wat in Lictenburg gehou is in April 2024, as die provinsie se Jongboer van die Jaar aangewys.

Die ander twee finaliste was Stompie Olivier van Rysmierbult en George Nel van Stella. Die wenner en finaliste is aangewys nadat ‘n paneel onafhanklike beoordelaars en landboukenners hulle besoek het.

Kobus is daarvan oortuig dat jongboer die toekoms van Suid-Afrikaanse landbou is. Hy sê dit is vir hulle nodig om ‘n volhoubare toekoms te skep. Jongboere bring nuwe energie en innoverende idees na vore, wat egter eers getoets en goed bestuur moet word. Hul voorgangers speel steeds ‘n belangrike rol danksy hul wye ervaring en moet help om goed toegeruste leiers vir die toekoms te ontwikkel.

Volhoubare voedselproduksie is belangrik in die lig van voedselsekerheid wat onder druk is, veral weens die onvoorspelbare klimaat, wêreldmarkte, die wisselkoers en politiek, glo hy.

Kobus boer alreeds vir agttien jaar. Hy het eers saam met sy pa Org, en ander familielede in die Beyers en Beyers Trust geboer. Van 2017 af het hy saam met sy broer Nelius, en pa Org in Al Cor-boerdery geboer. Vanaf 2021 boer hy saam met dieselfde broer van hom in Al Cor-boerdery op die plaas Doornpan nadat sy pa oorlede is. Hulle het intussen nog grond aangekoop en huur ook landerye en weiding.

Hul veefaktor bestaan uit kommersiële vleisbeeste en ‘n Dormer-stoetery. Die saaiery bestaan uit mielies wat 55.5% tot die boerdery se omset bydra, sojabone 22% en sonneblom 15%. Die speenkalfboerdery dra tot 6.5% van die omset by en die Dorpers die oorblywende 1%.

Kobus is verantwoordelik vir die administrasie van die chemie, kunsmis, saad en bemarking. Nelius hanteer die operasionele gedeelte van die boerdery. Hulle neem saam besluite.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui