Seniors wat van moord by Noordwes ouetehuis beskuldig word, dood in aanhouding

Albei die mans wat daarvan beskuldig word dat hulle ‘n mede-ouetehuis-inwoner vermoor het, is vandeesweek dood.

Twee mans wat daarvan aangekla word dat hulle die 80-jarige Godfrey Thema by ‘n ouetehuis naby Brits in Noordwes vermoor het, is in aanhouding dood.

Die departement van korrektiewe dienste (DKD) sê Daniel Madumo (92) en sy medebeskuldigde, Jeremia Mmatli (75), albei tereg op ‘n aanklag van moord, is dood terwyl hulle in aanhouding by Kgosi Mampuru korrektiewe sentrum in die Pretoriase middestad was.

Volgens polisiewoordvoerder, luitenant-kolonel Amanda Funani, het die moord gevolg op ‘n bakleiery tussen die drie mans in ‘n ouetehuis in Jerigo.

“Volgens inligting het die 80-jarige Motsepe op 30 Mei omstreeks 04:00 uit die badkamer gekom en Mmatli en Madumo teëgekom. Die oorledene het na bewering op een van hulle gestamp wat hom met sy krukke geslaan het. Sy metgesel het aan die bakleiery deelgeneem en albei het die slagoffer aangerand,” verduidelik Funani.

Die slagoffer het kopbeserings opgedoen en is per ambulans na die hospitaal vervoer, maar is met sy aankoms dood verklaar.

Fumani sê die eienaar van die ouetehuis is van die bakleiery in kennis gestel en het die polisie ontbied.

Die verdagtes is op 30 Mei in Jerigo-dorpie gearresteer en het op 3 Junie voor die Brits-landdroshof verskyn.

Singabakho Nxumalo, DKD-woordvoerder, sê die twee beskuldigdes is op 3 Junie in die Kgosi Mampuru-korrektiewe sentrum opgeneem en het steeds hofprosesse vir die slagoffer se dood in die gesig gestaar.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui