Meer as vyf jaar nadat veiligheidsbestuurder Sarel Petrus du Plessis ‘n 18-jarige graad 11-leerder wat hy daarvan verdink het dat hy lietsjies van ‘n plaas in Mpumalanga gesteel het, doodgeskiet het, is hy Dinsdag tot lewenslange tronkstraf gevonnis.
Die hooggeregshof in Mpumalanga het op Dinsdag, 25 Junie 2024 Sarel du Plessis, ’n sekuriteitsbestuurder, lewenslank agter tralies gevonnis vir die moord op die 18-jarige Bhekimuzi Anele Ziko.
Boonop is hy 10 jaar gegee vir elk van die drie aanklagte van poging tot moord, vyf jaar vir die ongelisensieerde besit van ‘n vuurwapen en drie jaar vir die besit van ammunisie. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word. Hy is ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.
Du Plessis (52) is op 8 Desember 2018 in hegtenis geneem op aanklag van moord op Ziko en skiet op sy broer en vriende. Hulle het gedurende die skoolvakansie ‘n vakansiewerk gesoek.
Volgens Monica Nyuswa, streekwoordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag in Mpumalanga, het die skietery op 5 Desember 2018 naby Uniform Farm, Tendabosch, in die Komatipoort-distrik plaasgevind.
Ziko, sy broer en twee vriende het in die lietsjie-oestyd op Daisa-plaas rondgeloop op soek na tydelike werk. Ziko was ‘n graad 11-leerder by Hoërskool Lovunywa in Langeloop Village, Mpumalanga.
Die hof het bevind dat Du Plessis, die plaas se sekuriteitsbestuurder, geglo het hulle oortree en van plan was om lietsjies van die plaas af te steel.
Nyuswa het verduidelik hoe hul soektog na werk dodelik geword het toe Du Plessis die groep konfronteer.
“Du Plessis het in hul rigting gery, sy voertuig gestop en sy vuurwapen uitgehaal. Hy het op die slagoffers begin skiet; Ziko is noodlottig geskiet, terwyl sy broer en vriende weggehardloop het.”
Du Plessis het deur die loop van die verhoor die bewerings ontken. Advokaat Eugene Mathebula het egter oortuigende getuienis gelewer, insluitend getuienis van die oorlewendes wat duidelik beskryf het wat op daardie dag gebeur het.
“Slagofferimpakverklarings wat deur die oorledene se ma saamgestel is, gefasiliteer deur hofvoorbereidingsbeampte Nomfundo Mokoena waarin sy die pyn en trauma uiteensit wat (aan haar) deur die beskuldigde veroorsaak is, is aangebied.
“Sy het gesê die voorval het haar emosioneel en fisies getraumatiseer gelaat. Sy is selfs met ’n chroniese siekte gediagnoseer,” het Nyuswa gesê.
Geen versagtende faktore nie
Ter verswaring van vonnis het die staat gesê die beskuldigde het sy mag as sekuriteitsbestuurder misbruik en ‘n weerlose jong werksoeker vermoor.
Regter Nelisa Phiwokazi Mali het gesê die vonnis moet as afskrikmiddel vir ander dien. Mali het geen versagtende faktore gevind wat die afwyking van die voorgeskrewe vonnis kan regverdig nie.
Zeph Mkhwanazi, waarnemende polisiekommissaris van Mpumalanga, het beklemtoon dat die lewenslange vonnis as ‘n afskrikmiddel vir ander sal dien.
“Die onderwerp van vuurwapens is vir ons ’n bekommernis omdat hierdie wapens dikwels in die pleging van geweldsmisdade gebruik word. Ons hoop dat hierdie vonnis afsluiting vir die slagoffer se familie sal bring,” het hy gesê.
Die vonnisoplegging van Du Plessis kom dae nadat oudpolisieman Marius van der Westhuizen, wat 13 jaar uitgedien het vir die moord op sy drie kinders in 2006, parool toegestaan is. Hy word op 31 Julie vrygelaat.
Die besluit om Van der Westhuizen op parool vry te laat, het woede ontlok by die burgerregte-organisasie Action Society. Die organisasie se direkteur, Kaylynn Palm, het gesê Van der Westhuizen is ‘n kindermoordenaar wat in die tronk moet bly. (Daily Maverik)