Vrou op Metrobus in Roodepoort doodgeskiet

Skieter was in die bus en het losgebrand toe sy wou klim: polisie

Die polisie is op soek na ‘n verdagte wat verbind word met die noodlottige skietery van ‘n vrou Woensdagoggend op ‘n Metrobus in die Roodepoort-omgewing.

Die voorval het omstreeks 05:55 in Fleurhof gebeur, het Xolani Fihla, woordvoerder van die Johannesburgse metropolisie, gesê.

“Beamptes van die metropolisie se taktiese reaksie-eenheid het vanoggend 26 Junie 2024, ‘n oproep ontvang oor ‘n skietery in ‘n Metrobus op Helpmekaarpad.

“Met aankoms het die beamptes ‘n oorlede vrou gevind. Daar word beweer dat die oorledene deur ‘n onbekende man geskiet is. Die vermeende skieter het glo van die toneel gevlug in ‘n wit Volkswagen Polo-sedan sonder nommerplate,” het hy gesê.

Polisiewoordvoerder lt-kol Mavela Masondo het meer besonderhede oor die skietery verskaf en gesê die vrou was 40 jaar oud en is geskiet toe sy op die punt was om op die bus te klim.

“Daar word beweer die verdagte was in die bus toe dit by die bushalte gestop het. Toe die vrou in die bus wou klim, het die verdagte verskeie skote op haar afgevuur. Daar word verder berig dat die verdagte ná die skietery in die voertuig gespring en weggejaag het.”

Kenny Kunene, Johannesburg se vervoerbeampte, het die voorval in ‘n plasing op X bevestig. “Ek is ingelig iemand het op ‘n Metrobus in Fleurhof geklim en ‘n passasier geskiet,” het hy gesê.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui