Prys van kakao kan chokolade pryse die hoogte laat in skiet

Die stygende prys van sjokolade is dalk net genoeg om jou van jou soettand te genees.

En hoewel die prys van kakao op finansiële markte dalk die hoogte ingeskiet het, baat diegene soos kakaoprodusente, produkverwerkers, spekulante en sjokolademakers oneweredig hierby.

In Maart het die prys van kakao tot meer as $10 000 per ton (sowat R181 000 per ton) op die New Yorkse mark gestyg ná ʼn kombinasie van slegte weersomstandighede en siektes wat onder verouderende plantasies gemaai het.

Die prys het intussen teruggesak, maar dit is steeds drie keer hoër as verlede jaar hierdie tyd.

Groot gapings

In die Ivoorkus en Ghana, die wêreld se grootste kakaoprodusente, bepaal die owerhede in Oktober die prys van die kommoditeit. Dit word gegrond op die prys van die vorige maande. Teen daardie tyd is die kakao “hoofsaaklik reeds vooraf verkoop”, sê Tancrede Voituriez van die Franse landbounavorsing-en-samewerkingsorganisasie CIRAD.

Dit verminder die uitwerking van wisselings in die prys van kakao uiteindelik – of dit nou op- of afwaarts is.

Gevolglik het kleinskaalse produsente, wat gewoonlik kwalik genoeg verdien om ʼn bestaan te voer, nie dadelik by die hoër prys gebaat nie. Die owerhede het in April wel die prys met 50% verhoog, na tussen $2 300 en $2 500 per ton (tussen R41 600 en R45 200). Dit is egter min in vergelyking met wat boere op die internasionale mark sou kon kry.

In lande soos Kameroen, Nigerië, Ecuador en Brasilië, waar minder gereguleerde stelsels is, het boere meer gebaat. Daar word boere toegelaat om hul bone te verkoop aan kopers wat bereid is om naastenby dieselfde pryse as op die finansiële markte te betaal.

Daar is egter ook risiko’s aan verbonde.

“Stygende pryse maak produksie meer aanloklik,” sê David Gonzales, koördineerder van die Peru- kamer van koffie en kakao.

Die vrees bestaan dus dat daar oor ʼn paar jaar ʼn oormaat kakao gaan wees – wanneer boere hoop om wins te maak uit hul nuwe bome – wat beteken pryse tuimel weer.

Verbruikers dalk gou geraak

Nestlé, vervaardiger van handelsmerke soos KitKat en Nesquik, sê verbruikers voel nog nie die volle uitwerking van die internasionale kakaotekort aan hul sak nie – maar dit kan binnekort gebeur.

Mark Davies, besturende direkteur van Nestlé in die Verenigde Koninkryk en Ierland, het vroeër in ʼn onderhoud met Bloomberg gesê die maatskappy verwag ʼn laer vraag na sjokolade namate vervaardigers beoog om hul pryse vir sjokoladeprodukte op te stoot.

Omdat vervaardigers die kakao reeds teen die laer pryse aangekoop het, het verbruikers nog nie die volle trefslag daarvan gevoel nie. Dit gaan egter binne ʼn kwessie van ʼn paar maande verander.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui