Man wat hom voordoen as polisielid en R5,5 m. steel, aangekla van bedrog

AUCKLAND, NIEU-SEELAND. – Volgens 1 News is ‘n 25-jarige Britse burger in Auckland in hegtenis geneem nadat hy hom na bewering as ‘n polisiebeampte oor die telefoon voorgedoen het en slagoffers uit meer as ‘n kwartmiljoen dollar (ongeveer R5,5 m.) bedrieg het.

In totaal is $297,700 (ongeveer R5,5 m.) van 18 inwoners van Auckland, tussen 56 en 90, gesteel, met die meeste slagoffers ouer as 80.

Volgens speursersant Craig Bolton van Auckland se finansiële misdaadeenheid is die slagoffers vertel dat die polisie hul hulp nodig het vir ‘n ondersoek. Die bedrogspul het altyd behels dat die sogenaamde beampte vir finansiële inligting gevra het of gevra het dat die slagoffers kontant onttrek as deel van die polisieondersoek.

Teen die tyd van sy arrestasie was die bedrieër glo op pad om ‘n vorige slagoffer uit nog kontant te bedrieg, nadat hy onlangs in Nieu-Seeland aangekom het. Speurders het by die slagoffer se deur opgedaag en hom ingelig dat hy op die punt was om $20,000 in kontant te verloor.

Die polisie kon die man Maandag in hegtenis neem. Hy sal in die Auckland-distrikshof verskyn op 22 aanklagte van bedrog deur misleiding, poging tot bedrog deur misleiding, en ontsnapping uit aanhouding.

“Hierdie man se beweerde dade het die goeie trou van weerlose en bejaarde lede van ons gemeenskap verraai,” het Bolton gesê. Hy het ook gesê die ondersoek is steeds aan die gang en die polisie werk om soveel moontlik van die geld terug te kry. Die polisie sal borgtog teenstaan.

Die polisie het die volgende advies om sulke slenters te vermy:

  • Die polisie sal nooit skakel om vir bankbesonderhede, pin-nommers of wagwoorde te vra nie.
  • Die polisie bied nie prysgeld aan nie.
  • Die polisie sal nie vra dat jy na ‘n bank toe gaan om geld te onttrek nie.
  • As jy ‘n oproep uit die bloute van soortgelyke aard ontvang, vra die beller om homself te identifiseer en vra vir sy besonderhede.
  • As dit te goed klink om waar te wees, is dit waarskynlik

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui