Willem Petzer reik ’n verklaring oor Devon en Liebenberg se “Nuwe” verbintenis uit

Die afgelope weke is ek polsend gevra deur menigde van u om kommentaar te lewer op Devon Hofmeyr se skuif om nou vir Louis Liebenberg te werk en selfs belegging in sy “pakkies” en sy “myn” aan te moedig op verskeie sosiale platforme.

My keuse om stilswye in die verband te pleeg het gelei tot selfs verdagmakerye van die uwe in somige kringe.  Daarom het ek besluit om hieronder breedvoerig, vir die eerste en die laaste keer my opinie met u te deel.

U sou onthou dat toe die Rapportartikel vrygestel is wat aangevoer het dat Devon met die gade van een van die Groblersdal-manne seksueel verkeer het wyl hy in die tronk was, en dat hy skelm met Liebenberg in koukus is, het meeste mense nie eers ag geslaan op die beweerde seks-skandaal nie, en almal se fokus was eerder op die moontlike assosiasie met Liebenberg. Mense het gepleit by Devon om net weg te bly van Liebenberg af. Devon het op die stadium beide beweringe ontken.

Net so was weinig mense gepla dat Devon by Zuma se gala-dinee was assulks, en selfs die bewering dat kaartjies R300 000 gekos het, was vir die meerderheid van mindere belang. Wat wel mense dwars in die krop gesteek het is dat Devon daar was op Liebenberg se uitnodiging en deur Liebenberg befonds.

Steve Hofmeyr het self op Facebook die kommentaar gelewer dat “assosiasie met Liebenberg politiek selfmoord binne Afrikanergeledere” is.

Steve was reg. Daar is ‘n cordon sanitaire rondom Liebenberg getrek.

‘n Cordon sanitaire is ‘n mediese term wat baie toepaslik hier is. Dit beteken iemand wat so besmet is dat die samelewing nie naby aan hom, of enigiemand wat aan hom raak, wil of kan kom nie.

Louis Liebenberg het die personifikasie van sifilis onder ons Volk geword.

Enige publieke of privaatfigure in ons Volk loop sirkels om enigiemand wat met Liebenberg in aanraking was.

U sien, enigiemand wat die moed het om enige merkwaardige standpunt in die publiek in te neem gaan dadelik vyande maak van diegene wat nie met sy standpunte ooreenstem nie. Die linkses hou nie van die regses nie, en andersom. Sulke politieke verskille is egter nie onoorkombaar nie, en jy sal samewerking nog sien tussen verskillende kampe, tot die mate wat beide kampe bevoordeel.

Liebenberg het, aan die ander kant, mense van regoor die spektrum, rondom iets baie meer eenvoudig vereenig: basiese menslike ordentelikheid.

Hy, en almal in sy kamp, wakker ook ‘n baie meer radikale haat onder ‘n groep mense aan. U sal byvoorbeeld nie sien dat groot groepe linkses Facebook groepe stig kontra elke regse figuur, of ANC figuur, of wat ookal nie, maar groot groepe normale mense stig wel (uiters aktiewe) groepe kontra Liebenberg en en al sy pione.

Die rede hiervoor is dat jy nie so baie mense kan indoen – weduwees se pensioene steel, kankerpasiënte se mediese sorg geld steel, ensovoorts – en dieselfde misnoë verwag wat ander kry wat slegs dissidente standpunt inneem nie.

Mense, regoor die politieke spektrum, is vereenig dat hierdie ‘n baie eenvoudige proposisie van waardes is – as jy jou by Liebenberg skaar, is jy eenvoudig net ‘n slegte mens. So eenvoudig soos dit. Om hieroor rede te voer is ‘n mors van tyd waarin niemand belangstel nie.

Waarom Devon die keuse gemaak het om saam met Liebenberg in die bed te klim, het ek geen idee nie, en ek glo ook nie ek sal ooit ‘n ware, of reguit antwoord uit hom kry nie. Is hy mislei? Was hy geldgierig? Oor antwoorde op hierdie vrae kan ons net spekuleer.

Van my kant af, maak dit maar baie min verskil. Ek gaan steeds aan met die werk wat ek doen. Ek bly steeds so ver van Liebenberg af soos menslik moontlik. Die keuses wat Devon maak, het geen invloed op dit wat ek al bereik het, of besig om aan te werk nie.

Dit is daarom dat ek dit nooit die moeite werd geag het om hieroor uit te wei nie; so enigiemand wat my probeer verdagmaak het omdat ek nie my tyd mors om op elke geleentheid met Devon oor die bogenoemde te baklei nie, daar het jy jou antwoord.

As ons vir elke blafende brak moet stop en baklei gaan ons nêrens kom nie. Dieselfde geld vir Liebenberg en sy pione.

God seën u elkeen, en God seën ons Volk.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui