Departement moet vergoeding aan hoenderboerdery heroorweeg

Die hooggeregshof in Kaapstad het die minister van landbou, grondhervoming en landelike ontwikkeling oor die kole gehaal nadat haar departement geweier het om ‘n Wes-Kaapse hoenderboerdery te vergoed weens die verliese wat hulle na ‘n uitbreking van voëlgriep gely het.

Die George Moerasrivierboerdery moet in 2021 byna 380 000 van sy hoenders van kant maak en eiers vernietig na ‘n voëlgriepuitbraak op twee van sy plase,

Na die department geweier het om die boerdery te vergoed vir die verliese, het die eienaars ‘n aansoek by die hooggeregshof in Kaapstad ingedien. Die hof het verlede Vrydag die departement se besluit ter syde gestel en bevind Moerasrivierboerdery se eis met heroorweeg word.

Ingevolge bepalings in die Wet op Dieresiektes mag boere billike markverwante waarde van ‘n besmette dier van die departement terugeis indien dit van kant gemaak moes word.

Die eerste uitbraak is op 26 Mei deur middel van laboratoriumtoetse op een van die boerdery se plase, Onderplaas, bevestig. DIt is dadelik aangemeld en die boerdery moes 195 648 hoenders van kant maak. Nog 3.1miljoen eiers en bykomede hoendermis moes vernietig word.

Voëlgriep is uiters aansteeklik en streng wetgewing oor die bestuur van die siekte geld.

Net meer as ‘n week na die eerste bevestigde uitbraak, het voëlgriep ook op die boerdery se tweede plaas, Moersrivier, uitgebreek. Altesaam 181 704 henne, 10 00 vrylopende hoenders en meer as 2 miljoen eiers moes daar vernietig word.

Die totale omvang van die die skade is op sowat R318.8 miljoen geraam.

In Augustus het die boerdery ‘n eis by die departement se direkteur van dieregesondheid ingedien, wat kort hierna geweier is. Die direkteur het bepaal dat besmette hoender geen waarde het nie.

Die boerdery het teen die besluit geappelleer waarna die minister ingegryp en beveel het die direkteur moet die eis heroorweeg. Steeds het die direkteur vasgeskop en die waarde van die hoenders is op R0 vasgestel.

Hierna het die boerdery die hof genader en versoek dat die direkteur se onregmatige besluit ter syde gestel moet word. Moerasrivier het die hof ook gevra om self ‘n waardebepaling (van die verlies) te maak.

Hoewel die hof nie die daarvoor te vinde was dat die boerdery sy eie waardebepaling doen nie, is die direkteur se besluit wel ter syde gestel.

In sy uitstpraak sê die hof die departement en sy direkteur het nie die Wet op Dieresiektes behoorlik oorweeg nie. Hiervolgens is boere geregtig op vergoeding of die betrokke diere nou gesond of besmet was toe hulle van kant gemaak moes word.

Die hof het die direkteur beveel om ‘n markverwante waarde te bepaal en die eis gegrond daarop uit te betaal.

(Maroela Media)

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui