Polisiebeamptes wat ‘n Wesrandse-dorp gepatrolleer het, het op ‘n vrou se lyk in ‘n motor afgekom.
Die liggaam van ‘n 57-jarige vrou is Vrydag in ‘n motor op die hoek van Van Der Linde- en Smithweg in Bedfordview gevind.
Volgens Bedfordview SAPD-woordvoerder, Lillian Modiga, het beamptes om 21:11 op die lyk afgekom.
“Polisiebeamptes het patrollies gedoen toe hulle die motor op die eiland sien staan het.
“Toe hulle die motor ondersoek het, het hulle besef die passasiersruit het koeëlgate en daar was ‘n wit vrou binne.
“Hulle het die vrou nagegaan en gevind dat sy geskiet is,” sê Modiga.
Die vrou is deur paramedici dood verklaar en haar liggaam is na die naaste lykshuis vervoer.
’n Saak van moord is geopen.
Bedfordview SAPD versoek enigiemand met inligting wat met die moord verband hou om na vore te kom.