DIE Lughawensmaatskappy Suid-Afrika (Acsa) het bevestig dat ‘n vrou Vrydagaand by King Shaka Internasionale Lughawe gesterf het, kort voordat sy op ‘n FlySafair (FA279)-vlug na Johannesburg geklim het.
In ‘n verklaring wat deur Acsa uitgereik is, het die maatskappy gesê dat ‘n oproep om 20:35 by die inbelsentrum aangemeld is waarin mediese noodreaksie versoek is nadat daar waargeneem is dat die reisiger sukkel om asem te haal by Hek A12 van die lughaweterminaal.
“Kort voor medici opgedaag het, is ‘n passasiersdiensagent uitgestuur en het om 20:40 op die toneel aangekom om te ontdek dat die pasiënt nie reageer nie,” lui die verklaring.
Acsa sê die paramedici het om 20:49 op die toneel aangekom en voortgegaan om gevorderde lewensondersteuning aan die pasiënt te verskaf. Ondanks alle pogings is die reisiger egter op die toneel dood verklaar.
“Die oorsaak van dood is nog onbekend. Ons kan egter bevestig dat die saak aan die SAPD oorhandig is. Acsa wil graag sy innige meegevoel met die reisiger se familie en geliefdes betuig gedurende hierdie moeilike tyd,” het hy gesê.