Suid-Afrika het ses bykomende laboratorium-bevestigde gevalle van Mpox geïdentifiseer, wat die totale aantal gevalle van sewe tot 13 neem sedert die eerste geval verlede maand aangemeld is.
Die departement van gesondheid het nuwe infeksies in Gauteng en die Wes-Kaap aangemeld. Die dodetal is steeds op twee.
Die eerste geval van Monkeypox, nou bekend as Mpox, is op 9 Mei 2024 in Suid-Afrika aangemeld toe ‘n 35-jarige man wat in Gauteng woonagtig was, positief getoets het.
In die jongste verklaring het die departement gesê hy het ‘n bondel Mpox-spesifieke behandeling, Tecovirimat – ook bekend as TPOXX of ST-246, ontvang vir die behandeling van pasiënte wat ernstige gesondheidskomplikasies ervaar weens Mpox-siekte.
“Die proses om meer behandeling te verseker, insluitend entstowwe, is aan die gang indien die behoefte ontstaan. Alle ligte gevalle sal egter steeds bestuur word met ondersteunende behandeling wat gebruik word om komplikasies soos koors, longontsteking en velinfeksies te bestuur,” het die departement verduidelik.
LEES | Mpox-gevalle styg tot sewe in SA na nuwe infeksie wat in W-Kaap aangeteken is
Die regering doen ‘n beroep op alle mense, ongeag geslag, ouderdom of seksuele oriëntasie, met vermoedelike Mpox-simptome of wat fisiese kontak met bekende gevalle gehad het om hulself by ‘n gesondheidsorgfasiliteit aan te meld omdat enigeen hierdie voorkombare en behandelbare siekte kan opdoen.
Die departement het gesê dat handhigiëne een van die doeltreffende maniere is om mense teen siek te beskerm en die oordrag van siektes te voorkom.
“Mense word daaraan herinner om altyd hande met seep en water te was, of ‘n alkoholgebaseerde handreiniger te gebruik, veral voordat jy eet of aan jou gesig vat en nadat jy die badkamer gebruik het.”
Sommige van die algemene simptome van Mpox sluit in ‘n uitslag, wat vir twee tot vier weke kan aanhou, koors, hoofpyn, spierpyne, rugpyn, lae energie en geswelde kliere.
“Die pynlike uitslag lyk soos blase of sere, en kan die gesig, handpalms, voetsole, lies, ensovoorts affekteer.”